Die polisie het glo met rubberkoeëls op mense tydens ’n klopjag geskiet. Foto: Verskaf


’n Saak van aanranding sal deur die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek word met betrekking tot ’n man van Vredenburg wat beweer polisiebeamptes het hom en sy vriendin aangerand.

Volgens die slagoffer het die polisie op 23 Mei omstreeks 17:00 by sy huis in George Kerridge, Vredenburg, ingebars terwyl hy en sy vriendin geslaap het.

Hy het aan Weslander vertel dat hulle met ’n vuurwapen gedreig is, sy vriendin deur een van die polisiebeamptes “rondgeklap” is en dat hy herhaaldelik met ’n skokstok geskok is. Die inhoud van hul kaste is ook glo op die vloer uitgegooi.

Volgens die man was die polisie op soek na onwettige wapens en dwelms.

Hy het aan Weslander gesê sy oom, wat voorheen op die perseel gewoon het, het wel dwelms uit die huis verkoop en ook wapens aangehou, maar geen dwelms of wapens word meer in die huis gehou nie.

Die polisie het ook glo ’n ander man geslaan wat in ’n opslaanhuis op die vermeende slagoffer se erf woon, en na bewering op dié se vriende met rubberkoeëls geskiet. Een van die “slagoffers” sê hy verstaan dat die polisie ’n klopjag uitgevoer het, maar hy voel die aanranding en geweld was onnodig en onregverdig.

Kapt. Tania Helfrich, die woordvoerder van die Vredenburg-polisie, het bevestig dat die slagoffer die klagte by die polisiekantoor kom aanmeld en ’n verklaring afgelê het. Sy het ook gesê die saak is na Opod vir ondersoek verwys.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article