Verskeie rolspelers woon die opening van Hopefield se slagoffer-vriendelike kamer by.Foto: Noluvu Ludidi


Dit was ’n groot eer vir die Hopefield-polisiekantoor om sy slagoffer-vriendelike kamer met ’n nuwe baadjie bekend te stel.

Die bekendstelling het Dinsdag 25 Februarie in samewerking met Business Against Crime by die polisiekantoor plaasgevind, met verskeie rolspelers teenwoordig.

Verskeie gassprekers het klem gelê op hoe belangrik die slagoffer-vriendelike kamer is en op die diens wat dit aan die gemeenskap van Hopefield sal bied.

Hopefield se slagoffer-vriendelike kamer is die 17de uit 25 in die distrik. Die opknappings het binne twee maande plaasgevind en die nuwe kamer het ’n kalmerende atmosfeer, pragtige meubels en kuns teen die mure.

Volgens kapt. Gotlieb Adams, die stasiebevelvoerder van die Hopefield-polisie, ontvang die kamer elke maand besoek van gemiddeld 29 mense.

“Hierdie kamer is meer as net ’n fisieke ruimte – dit verteenwoordig ons verbintenis tot deernis, empatie en geregtigheid. Dit is ’n simbool van ons toewyding om ’n veilige en ondersteunende omgewing te skep waar slagoffers gemaklik kan voel om hul ervarings te deel en die ondersteuning te ontvang wat hulle nodig het,” vertel Adams.

“Aan die slagoffers van misdaad wat dapper hul stories gedeel het en ons geïnspireer het om hierdie ruimte te skep: Ek wil julle verseker dat ons daartoe verbind is om julle in elke stap van die pad te ondersteun. Hierdie kamer is ’n bewys van ons toewyding aan u welstand en ons strewe na geregtigheid,” sê Adams.

Polisielede en vrywilligers wat saam met die slagoffers gaan werk, is ook herinner om slagoffers welkom te laat voel en ’n ruimte te skep en te handhaaf waar slagoffers veilig kan voel.

Rolspelers soos Umoya Energy, die provinsiale polisiekantoor, Business Against Crime, vrywilligers en alle ander betrokkenes is bedank vir hul toewyding wat tot die sukses van die projek bygedra het. Adams raai enigiemand wat hulp benodig, aan om met die polisie kontak te maak wat die slagoffers met die nodige hulp sal bystaan.

. Kontak die Hopefield-polisiekantoor by 022 723 8000 of 022 723 8009 in geval van nood.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article