Die familie van Leo Williams (9) van St. Helenabaai dagvaar nou die nasionale polisiekommissaris omdat die polisie nie van plan is om iemand vir Leo se skietdood verantwoordelik te hou nie.
Weslander het destyds berig oor die gewelddadige onluste wat in Julie 2020 in St. Helenabaai opgevlam het.
Terwyl openbare-orde-polisiëring destyds die vrede in Laingville probeer bewaar het, is Leo deur ’n dwaalkoeël getref waar hy in sy oom se huis gesit en televisie kyk het.
Die koeël, wat vermoedelik deur ’n polisiebeampte buite in die straat afgevuur is, is dwarsdeur die sinkstruktuur van die huis en het Leo in die kop getref.
Leo is met ’n ernstige kopbesering in die hospitaal opgeneem.
Hy is lank deur lewensondersteunende masjiene aan die lewe gehou. Hy is later breindood verklaar en die familie het weke later besluit om die masjiene te laat afskakel.
Die saak is deur die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek.
Weslander het verlede jaar berig oor die gemeenskap se teleurstelling nadat hulle gehoor het die polisie se ondersoek is onopgelos afgesluit.
Thyrone Williams (geen familieverband met Leo), ’n bekende plaaslike gemeenskapsaktivis en raadslid by die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM), het vandeesweek aan Weslander gesê hy moes ongeveer ’n jaar gelede die “slegte nuus” dat niemand vir Leo se dood vervolg gaan word nie aan die ontevrede gemeenskap bekend maak.
“Daar was glo nie voldoende bewyse teen enigiemand nie, hoewel ons weet iemand van die polisie is skuldig, aangesien dit wel bewys is dat Leo se dood deur ’n rubberkoeël veroorsaak is,” het Williams gesê.
Op Menseregtedag verlede jaar het die Laingville-gemeenskap besluit om aan ’n betoging deel te neem waarna ’n versoekskrif aan verteenwoordigers van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) oorhandig is. Leo se familie en die gemeenskap het die NVG en Opod versoek om Leo se saak te heropen en om die polisiebeamptes wat in 2020 aan diens was te identifiseer en om die ondersoekverslag aan hulle bekend te maak. Die NVG het daarna laat weet hulle volstaan by hulle besluit om niemand te vervolg nie. “Dis om hierdie rede wat die familie en gemeenskap die nasionale polisiekommissaris nou vir skadevergoeding gaan dagvaar,” het Williams aan Weslander gesê.
Volgens Williams sal die dagvaarding binnekort aan die polisiekommissaris bedien word.




