Só lyk die Norinco Star-pistool en die 303-geweer wat by ’n huis in Vredenburg gevind is. Foto:


Twee onwettige vuurwapens, ’n Norinco Star-pistool met drie patrone en ’n 303-geweer is by ’n huis in Vredenburg gevind.

Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van die Vredenburg-polisie, is die wapens en ammunisie op 17 Maart in en buite ’n huis in Strandloperstraat, Witteklip, ontdek.

Sy sê ’n onbekende man het omstreeks 14:00 by die Vredenburg-polisiekantoor aangekom en gesê hy weet waar onwettige vuurwapens versteek is.

Enkele minute later het lede van Vredenburg se misdaadvoorkomingseenheid en die plaaslike misdaadintelligensie-eenheid die perseel in Strandloperstraat deursoek en die vuurwapens gevind presies op die plek waar dit volgens die man se beskrywing versteek was.

Niemand is al in hegtenis geneem met betrekking tot hierdie vonds nie. Opvolgwerk moet eers gedoen word om die vermeende eienaar van die ongelisensieerde vuurwapens, waarvan die reeksnommers verwyder is, op te spoor.

“Die betrokke polisielede word geloof vir hul vinnige reaksie om ’n veiliger gemeenskap te verseker,” het Helfrich gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article