Die sowat 41 000 Mandrax-tablette met ‘n geraamde straatwaarde van R2 050 000 waarop dié week beslag gelê is.Foto: SAPD


Die polisie het tydens ’n geïntegreerde stop-en-deursoek-optrede langs die N7 en terwyl hulle ’n hotelkamer deurgesoek het, op meer as R5 miljoen se dwelms beslag gelê.

Volgens Kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder vir die Wes-Kaap, het polisielede Woensdag 26 April ’n verdagte voertuig naby die Klawer-weegbrug voorgekeer en dit deursoek. Die lede het op ’n groot hoeveelheid dwelms afgekom en op altesaam 41 000 Mandrax-tablette met ’n geraamde straatwaarde van R2 050 000 beslag gelê.

Die voertuigbestuurder, ’n 33-jarige vrou, is in hegtenis geneem en is aangehou. Sy het Vrydag 28 April in die Klawer-landdroshof op aanklag van handel in dwelms verskyn.

In ’n onverwante aangeleentheid het polisielede van die Table View-polisiekantoor ook Woensdag 26 April omstreeks 11:00 inligting opgevolg oor ’n vermeende dwelmkoerier in ’n hotelkamer in Marine-rylaan. Volgens Van Wyk was niemand in die kamer toe die polisie toegeslaan het nie. Hulle het egter 13 houers (sowat 13 kg) gevul met tik met ’n geraamde straatwaarde van R3,2 miljoen aangetref.

“Die Valke ondersoek nou die saak en is op soek na die verdagte,” het Van Wyk gesê.

Hy het beklemtoon dat die misbruik van dwelms een van die hoofoorsake van geweldsmisdaad in Wes-Kaapse gemeenskappe is, en lede verbonde aan die Weskus-polisiedistrik, die Provinsiale Operasionele Bevelsentrum en Provinsiale Verkeer geloof vir hul pogings om dwelms uit die strate te verwyder.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article