Lede van Operasie Restore, ’n gesamentlike teenmisdaadoperasie wat in- en uitgangsroetes na die Wes-Kaap teiken, het Dinsdagoggend (2 Mei) op nog gesmokkelde diamante en robyne by ’n padblokkade beslag gelê. Die waarde van die edelgesteentes moes teen druktyd nog bepaal word.
Volgens sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder, het polisiebeamptes naby Klawer voertuie gestop en deursoek toe ’n Toyota Quantum met sy passasiers ook deursoek is. In een van die insittendes van die voertuig se bagasie is 344 ongeslypte diamante en 1 030 ongepoleerde robyne gevind. Die 43-jarige man is in hegtenis geneem vir die onwettige besit van edelgesteentes.
Die verdagte sal vandag (Donderdag 4 Mei) in die Vanrhynsdorp-landdroshof verskyn.
Dié inhegtenisname volg kort op die hakke van die beslaglegging op ongeslypte diamante en robyne ter waarde van R127 240 op 22 April. Twee Malawiese mans, Moses Sibunda en Kennedy Masimba, onderskeidelik 33 en 46 jaar oud, het reeds weer op Dinsdag 2 Mei in die Klawer-landdroshof verskyn. Daar is 29 ongeslypte diamante en drie ongepoleerde robyne by hulle in ’n Toyota-bakkie gekry. Die saak is vir verdere ondersoek uitgestel.
Hulle word aangehou.




