Lede van die St. Helenabaai- Wyk 11-aksiegroep het Vrydag (12 Augustus) ’n hulpkragopwekker aan die plaaslike polisiekantoor oorhandig.
Die skenking volg nadat die aksiegroep gesien het die polisiekantoor is sonder elektrisiteit wanneer beurtkrag toegepas word, wat beteken hulle kan nie hulpmiddels gebruik as die krag onderbreek word nie.
’n Kragopwekker is aan die polisiekantoor geskenk sodat hulle hul gewone pligte en optredes op ’n normale wyse kan uitvoer, het die aksiegroep verduidelik.
Die poging is ter ondersteuning van alle inwoners vir die handhawing van polisieteenwoordigheid en ondersteuning en veiligheid ten tyde van Eskom-kragonderbrekings.




