Die Darling-polisie wil klem lê op die belangrikheid van die voortbestaan van ’n plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF).
Aansoeke en benoemings vir lede vir die uitvoerende komitee het op 29 Januarie gesluit.
Die GPF se jaarvergadering, wat vroeër vandeesmaand sou plaasvind, is uitgestel weens ’n gebrek aan benoemings.
Alle inwoners, skole, organisasies sonder winsbejag, sportklubs en plaaslike ondernemings, buurtwagte en kerke is uitgenooi om by die GPF betrokke te raak.
Daarom dring die polisie daarop aan dat lede van die plaaslike gemeenskap hulle registreer sodat ’n nuwe uitvoerende komitee verkies kan word.
’n Vriendelike versoek word aan organisasies gerig om hul opgedateerde aansoekvorms so vinnig as moontlik by die plaaslike polisiekantoor in te dien.
“Indien jou organisasie graag by die Darling-GPF betrokke wil raak, kan die organisasie lede benoem en tot die onderskeie posisies beskikbaar in die komitee verkies,” voeg Jonathan Filander, woordvoerder, by.
Darling benodig ’n nuwe komitee om die volgende doelwitte te bereik:
Volgens die plaaslike polisie is ’n GPF nodig om onder meer ’n vennootskap tussen die plaaslike gemeenskap en die polisie te vestig en te behou.
Ander doelwitte sluit in om kommunikasie en samewerking tussen die gemeenskap en die polisie te bevorder, asook om seker te maak dat die diens van die polisie op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak uitgevoer word en dit verbeter.
Deursigtigheid en aanspreeklikheid is onder meer ook een van die GPF se doelwitte.
Die bevordering van gesamentlike probleemidentifisering en -oplossing tussen die polisie en die gemeenskap is van kardinale belang.
Die jaarvergadering is herbeplan vir tussen 26 Februarie en 1 Maart vanjaar.
Hierdie inligting sal binnekort deurgegee word.


