Die dwelms is in die deur versteek.Foto’s: SAPD


Die vinnige reaksie van polisielede van die plattelandse blitspatrollie, wat verlede Dinsdag (21 Januarie) op die N7-hoofweg ontplooi is, het tot die inhegtenisneming van ’n burger van Burundi gelei.

Hy was in besit van onwettige dwelms met ’n straatwaarde van bykans R70 000.

Volgens AO Joseph Swartbooi, ’n polisiewoordvoerder vir die Wes-Kaap, was die blitspatrollielede besig met patrollies toe hulle hoor dat ’n blou Kia Rio met vermoedelik dwelms op pad na Vredendal was. Die polisiebeamptes het hulle na die dorp gehaas waar hulle die verdagte voertuig naby ’n sakeperseel in Voortrekkerstraat gesien het.

Die lede het die voertuig genader en die bestuurder en die voertuig deursoek, wat tot die ontdekking van 1 739 Mandrax-tablette gelei het.

Hulle het die 38-jarige man weens die onwettige handel van dwelms in hegtenis geneem.

Die verdagte sal na verwagting in die Vredendal-landdroshof op die genoemde aanklag verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article