Volgens die plaaslike vissersorganisasie St. Helenabaai-vissersgemeenskapsforum, laat die teenstrydigheid van die departement se voorskrifte vissers al weer aan die kortste ent trek. Foto: Argief/Weslander


Ná jare se gesloer het kleinskaalse vissers uiteindelik hul visvangregte ontvang, maar sommige vissers meen die uitkoms laat steeds veel te wense na.

Volgens die plaaslike vissersorganisasie St. Helen

Volgens die plaaslike vissersorganisasie St. Helenabaai-vissersgemeenskapsforum, laat die teenstrydigheid van die departement se voorskrifte vissers al weer aan die kortste ent trek. Foto: Argief/Weslander

Volgens die plaaslike vissersorganisasie St. Helenabaai-vissersgemeenskapsforum, laat die teenstrydigheid van die departement se voorskrifte vissers al weer aan die kortste ent trek. “Dis nie volhoubaar nie. Die koöperasie moes aansoek doen om spesifieke spesies te vang, maar hulle ken spesies toe wat nie hier voorkom nie,” verduidelik Charles Jordaan van hierdie organisasie.

Vissers kry vangsregte

Die departement van omgewing, bosbou en visserye het verlede Dinsdag (14 November) amptelike visvangregte aan kleinskaalse vissers vir die volgende 15 jaar toegeken – ná jare se gesloer. Toekenning moes aanvanklik ter syde gestel word toe die Wes-Kaapse hooggeregshof in 2016 beslis het die toekenningsproses van minister Barbara Creecy was gebrekkig.

Vissers in die provinsie moes toe wéér aansoek doen vir hul regte en die proses is van voor af begin.

“Nou moet elke visser deel wees van ’n koöperasie. Daar is koöperasies in Hopefield, Vredenburg, Laaiplek, Paternoster en drie hier in St. Helenabaai. Die departement dwing vissers om deel van koöperasies te wees, maar ons het nie die nodige infrastruktuur om dit te laat werk nie,” meen visser John Thompson.

Creecy het verlede week verduidelik die toekenning van regte beteken die visserskoöperasies sal werkskepping en ekonomiese ontwikkeling in vissersgemeenskappe bevorder. Daarmee saam sal dit voedselsekerheid ondersteun en beteken tradisionele vissers sal nie meer vervolg word nie, omdat hulle nou visvangregte het.

Hoe en van waar die nodige infrastruktuur soos geboue en koelkamers of yskaste vandaan sal kom, is onduidelik.

Vissers en die koöperasie is een

Volgens die departement se voorskrifte moet kleinskaalse vissers deel van ’n koöperasie wees om vis te mag vang. Geen kleinskaalse visser mag as individu vang nie, en daarom moet koöperasies aansoek doen om spesifieke spesies te vang, en saam maak hierdie spesies die vissers se “mandjie” op. Vissers in die koöperasie moet dan saamwerk om uiteindelik vis te vang, dit te verwerk, te verpak en te verkoop. Die departement se doel is om uiteindelik ’n waardeketting te skep sodat vissers se inkomste meer volhoubaar is.

Thompson en Jordaan sê hoewel dit ’n goeie model is, is die werklikheid anders. “Ons het twee dae se opleiding by diensverskaffers ontvang, maar hoe kan ons alles in twee dae inneem? Dit is konsepte waarmee baie vissers nog nooit te doen gehad het nie,” verduidelik Thompson.

Hy voeg by die sessies is boonop in Engels aangebied, terwyl die meeste plaaslike vissers Afrikaanssprekend is.

Benewens die riglyne om die koöperasies te bestuur, het verskeie staatsinstansies ook aanbiedinge gedoen oor hoe en waar om vir finansiering aansoek te doen, maar volgens Jordaan was dié beamptes dit eens – daar is nie ’n bestaande model om kleinskaalse vissers te help nie.

“Die hele [koöperasie-model] is doodgebore. Jy het hier te doen met mense wat van 11 jaar oud af op die see was.”

Creecy het op haar beurt gesê deel van die ondersteuning wat die departement sal bied, is 62 mentors – een per koöperasie – wat sal help. Die mentorskap sal vir drie jaar geld.

’n Stukkende mandjie

Koöperasies het sedertdien terugvoer ontvang oor die mandjie wat hulle mag vang. Die vissermanne verduidelik egter dié toekennings is sinneloos.

“Ons [in St. Helenabaai] is goedgekeur vir perlemoen, maar hier is nie genoeg vir ’n koöperasie om by baat te vind nie. Môre, oormôre word die spesies dan op ’n rooilys geplaas, want die getalle neem af. Steenberg’s Cove se koöperasie is goedgekeur vir tuna pole, (wat met ’n stok gevang word) maar dit vang jy net in die diep see. “Kleinskaalse vissers word beperk tot 3 seemyl van die kus af. Sê jy nou hoe ons dan tuna pole kan vang? Hoe verwag hulle ons moet sardyn met ’n lyn vang?” wil Thompson weet.

Ander spesies waarvoor aansoek gedoen is en wat volgens die plaaslike vissers volhoubaar gevang kan word, is deur die departement afgekeur.

Volgens Carmelita Mostert van Saldanha voel vissers in dié dorp baie dieselfde. “Ons het dit uitgewerk met die kreef. Dit is ’n hoëgehalte spesie, maar wanneer jy dit uitwerk, kry elke visser uiteindelik sowat R3 900 aan die einde van die maand. Hoe kan ’n gesin daarvan leef?”, wil sy weet.

Benewens die inkomste wat elke visser ontvang, moet 5% van die koöperasie se inkomste in die rekening bly vir die koöperasie se voortbestaan.

Elke visser moet eenmalig R200 vir hul toetrede tot die koöperasie betaal en moet ook jaarliks R1 200 betaal as lid van ’n koöperasie. “Dit neem nie eens brandstof, lewenskostes en inflasie in ag nie. Hierdie mense sit in ’n kantoor en maak besluite. Hulle moet in ’n bootjie kom klim en sien hoe vissers hul brood verdien. Ek dink die minister sal huil as sy die werklikheid moet sien,” meen Mostert.

Pad vorentoe

Die volgende stap vir koöperasies is nou om hul goedgekeurde spesielyste van die departement te onderteken. Hierna sal die koöperasies ’n vergadering moet hou om hul permanente bestuur te verkies. Die forum meen egter koöperasies moet twee keer dink voor hulle die lyste goedkeur.

“Terwyl hierdie lyste nog by ons lê, het ons die mag. Die oomblik wat ons teken, keur ons die onvolhoubare mandjie goed en dan sit ons weer waar ons was,” meen Thompson.

Intussen beplan vissers om ’n betoging oor hul griewe te hou.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article