’n Sentrum vir vroeëkinderontwikkeling, ’n nuwe substasie en die stigting van ’n vroue-kommissie was onder die besprekingspunte by die mees onlangse Saldanhabaai- munisipale raadsvergadering.

Tydens die vergadering op 28 September het die munisipale raad die stigting van ’n vroue-kommissie vir die veelparty- Suid-Afrikaanse vereniging vir plaaslike regering (Salga) goedgekeur. Dié kommissie sal gereeld aan die raad terugvoer gee oor werksaamhede oor onder meer geslagsgelykheid en volhoubare ontwikkeling vir vroue.

Planne is ook van stapel gestuur om die sentrale begraafplaas buite Vredenburg te vergroot. Goedkeuring vir die koop van bykomende grond is by die vergadering verleen.

Die Marais-nywerheidspark kry moontlik binnekort ’n substasie. Die munisipaliteit se planne om grond naby dié nywerheidsgebied aan te skaf, is vir ’n beoogde 66/11kV- substasie goedgekeur. Inwoners sal ook kans kry om kommentaar te lewer oor die beplande ontwikkeling deur ’n openbaredeelnameproses.

Danksy Afrisam is White City in Saldanha in die toekoms ’n vroeëkinderontwikkeling­sentrum ryker. Volgens die munisipaliteit het die buurt nie tans ’n sentrum nie en planne is dus goedgekeur om met Afrisam se hulp een te vestig. ’n Memorandum van verstandhouding sal met die onderneming onderteken word.

Kostes vir die ontwikkeling sal tussen die munisipaliteit en Afrisam verdeel word, met die sentrum wat ’n munisipale bate sal wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article