Die Saldanha Staal-aanleg aan die Weskus.Foto: Argief


Ses maande en dan moet ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) besluit of hul aanlegte in Vereeniging en Newcastle in Saldanha Staal se voetspore gaan volg.

Amsa het verlede week sy finansiële resultate vir Desember 2023 aangekondig. Saam met dié nuus het Amsa verduidelik hy het die besluit om sy twee langstaalfabrieke te sluit, met ses maande uitgestel. Die jaarresultate sluit ’n wesensverlies van R1,89 miljard in teenoor ’n wins van R2,607 miljard wat die vorige boekjaar gemaak is. Die wesensverlies sluit nie afskrywings van R2,1 miljard in nie.

Amsa het nou korttermyn-inisiatiewe vir die twee aanlegte om die vooruitsigte te verbeter. Hierdie inisiatiewe sluit in werk met belanghebbendes soos Transnet wat bereid is om hawe- en spoordienste doeltreffend te verbeter.

Goeie nuus was ook dat die verbod om skrootmetaal uit te voer nie verlede Desember verleng nie. Amsa het verduidelik hy sal verder met die regering gesels oor bekommernisse met betrekking tot skrootmetaal, wat weer ’n bedreiging vir klein en medium entrepreneurs en handelaars inhou.

Die staalreus werk ook nou saam met sleutelvervaardigers, diensverskaffers en die arbeidsektor om die kostestruktuur van die langstaalaanlegte te verminder.

In die ses maande poog Amsa om planne – vir die medium sowel as en langtermyn – te maak om die aanlegte en sowat 3 500 direkte werksgeleenthede te red. Volgens kundiges in die bedryf kan dit uitkring na 100 000 werksgeleenthede indien die aanlegte wel hul deure toemaak.

Amsa het nou by sy finansierders aansoek gedoen vir R1 miljard om die aanlegte se deure oop te hou.

Benewens die besluite oor die langstaalfabrieke het Amsa ook verduidelik die finale finansiering vir die beplande 200 MW-sonkragaanleg in Vanderbijlpark verloop goed. Amsa het aanvanklik ook studies by sy Saldanha-aanleg gedoen om te bepaal of dié sonkragaanleg aan die Weskus gebou kon word.

Die Saldanha-aanleg het in Maart 2020 gesluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article