’n Aand van glans en eer – dít is wat die finaliste by die 2022- Public Health Entertainment-prysuitdeling ervaar het.
Die Vredenburgse rymkletser Matthew Joyner, die sangeres Kaytlin Filander en die musiekvervaardiger Damon Lottering, die stigter van Damon Records, het die Weskus se naam hoog gehou en talle pryse losgeslaan. Die geleentheid is Woensdag 14 Desember in die Paarl-stadsaal gehou.
Die prysuitdeling gee erkenning aan die talentvolle musiekkunstenaars in verskeie afdelings. Die publiek het vir die benoemings en wenners in die onderskeie afdelings gestem.
Met twee toekennings in die sak in 2021 het Joyner die Extended Play (EP) van die jaar gewen. Filander het as vroulike kunstenaar van die jaar weggestap en Lottering as musiekvervaardiger van die jaar.
Vir Joyner was die oorwinning nog ’n hoogtepunt – dit het hom weer laat besef dat die harde werk wat hy insit, vrugte afwerp en dat hy ware aanhangers het wat hom ondersteun.
Volgens Joyner is dit die diep musiek op die EP waarby mense kon aanklank vind wat tot die prestasie bygedra het.
Filander het aan Weslander vertel dat sy baie trots is op die prestasie, veral die feit dat daar so baie vroulike musiekkunstenaars is en dat sy uitgestaan het. “Dit het so onwerklik gevoel; ek kan dit nie eens beskryf nie. Dit het my net nog meer gemotiveer,” vertel Filander.
“Ek kon nie vir beter ondersteuners gevra het nie. Om eerlik te wees, is hulle eintlik die mense wat my gemotiveer het om beter te vaar; my ouers en familie ook.”
Oorweldigende gevoelens en ’n klomp emosies het Lottering op een slag getref toe hy van sy toekenning hoor. “Ek kan nie eens regtig beskryf wat ek op daardie oomblik gevoel het nie, maar emosioneel was dit definitief.”
Lottering het Damon Records in 2009 gestig en dit was sy eerste oorwinning by die Public Health Entertainment-prysuitdeling. “Ek is in 2021 ook benoem en was die naaswenner, maar uiteindelik het ek hierdie jaar met die eerste plek weggestap.”
Lottering het Joyner se EP en Filander se lied “Waarde” vervaardig, wat hom die aanspraak op die prys gegee het.
Al drie dié musiekliefhebbers het elkeen wat betrokke was vir hul ondersteuning en bydraes tot hul suksesse bedank. Hulle is dit eens dat hulle vanjaar groot planne vir hul onderskeie musiekloopbane het.




