Met harde werk, toewyding en ’n glansryke persoonlikheid is dit geen verrassing nie dat Joey Brits die naaswenner in die 2022-Solidariteit-kantoorkampioen-kompetisie is nie.
Die kompetisie vereer kantoorpraktisyns in verskeie bedrywe vir die werk wat hulle doen. Dié Vredenburger het met ’n benoeming en genoeg stemme die top-15 gehaal en is uiteindelik as naaswenner aangewys.
Sedert Julie hierdie jaar werk Brits al agt jaar vir die ginekoloog en verloskundige dr. Claudine Smit as haar persoonlike assistent en ontvangsdame, en sy geniet elke oomblik daarvan.
Brits kon ongelukkig nie self die prysuitdeling, wat in September in Pretoria gehou is, bywoon nie, maar Solidariteit het haar die vergunning gegee om deur ’n Whatsapp video-oproep in te skakel.
“Ek was ongelooflik verbaas toe ek daardie aand as die tweedeplekwenner aangewys is. Hulle het ná die kroning ’n uitnodiging na hul spoggerige gala-aand gestuur, wat op Dinsdag 6 Desember 2022 plaasgevind het. Hulle het alle koste vir die geleentheid gedra.”
Brits vertel dat ’n mens as kantoorwerker meestal nie erkenning kry vir wat jy doen nie. “Ons kan nie vir ’n graad gaan studeer nie; jy het maar ’n kursus hier en daar gedoen.”
Nietemin was hierdie prestasie vir haar ’n groot eer. As naaswenner het Brits ’n trofee en ’n Take-a-lot-geskenkbewys ter waarde van R3 000 ontvang.
Brits werk op haar eie in die spreekkamer, wat vereis dat sy akkuraat en vinnig moet werk. “Dit verg baie meer as net die papierwerk regkry. Jy is die gesig met wie mense die onderneming assosieer, en jy moet altyd hoflik en vriendelik wees. Dis nie altyd maklik nie. Hierdie prys laat my voel dit is wel die moeite werd. Ek sou gewis nie die selfvertroue gehad het as dit nie vir elke ander spesialis-spreekkamer se administratiewe personeel om my was nie. Ons noem onsself die ‘suksesvolle sekkies’.”
Met haar leuse “Excellence is not a skill; it is an attitude” het Brits die regte houding in die lewe.
Brits het Solidariteit vir die geleentheid as ook haar man, wat haar altyd ondersteun, bedank. “Dan ook dankie aan elkeen vir wie ek al ooit kon werk, want hierdie sou nie sonder dit moontlik gewees het nie.”





