Noodpersoneel van die Weskus-distriksmunisipaliteit besig om die toneel op te ruim.Foto: facebook.com/WeskusDM


Opruiming van ’n ongelukstoneel in Moorreesburg, waar ’n lokomotief en vragmotor gebots het, is Maandag 13 November voltooi.

Inwoners en motoriste is verlede week aangeraai om Piketbergweg in Moorreesburg te vermy nadat ’n lokomotief, wat Dinsdag 7 November deur die dorp gery het, teen ’n vragmotor vol lupiene gelaai, gebots het.

Die botsing het omstreeks 12:00 die middag by die Rosenhof-treinspoorkruising plaasgevind.

Die vragmotorbestuurder het volgens ’n polisiewoordvoerder, AO Nicolette Visagie, slegs ligte beserings opgedoen.

Geen ander motoriste of voetgangers is in die botsing beseer nie.

’n Klagte van roekelose en nalatige bestuur word tans deur die plaaslike polisie in Moorreesburg ondersoek.

’n Stop-en-ry-stelsel is sedert Woensdag opgestel om motoriste rondom die ongelukstoneel te lei. Lede van die plaaslike wetstoepassings­dienste, in samewerking met ’n ingenieurspan van Transnet, was Vrydag op die toneel om die lokomotief te begin verwyder.

Die toneel was Vrydagmiddag grootliks opgeruim nadat Transnet daarin geslaag het om die trein op te lig en te verwyder. Die pad is ook Vrydagmiddag reeds oopgestel vir verkeer en voetgangers.

Die laaste opruimingswerk is Maandag (13 November) afgehandel nadat ’n lekkasie ontstaan het, wat deur die plaaslike brand- en reddingsdienste, wat deurgaans op die toneel was tydens die opruimingswerk, herstel is. Die vrag lupiene wat die vragmotor vervoer het, is deur plaaslike instansies in sakke gelaai en verwyder.

Alle pogings om die ongelukstoneel op te klaar, is deur die Weskus-distriksmunisipaliteit se rampbestuurafdeling gekoördineer.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article