Werkers is besig om waterpype in Piketberg te vervang of op te knap.


Inwoners van Piketberg gaan binnekort veel minder wateronderbrekings ervaar aangesien die Bergrivier-munisipaliteit (BM) besig is om sy waterpypinfrastruktuur te verbeter.

Volgens die BM se kommunikasiekantoor is R10,5 miljoen begroot om die verouderde ondergrondse waterpypstelsel op te knap.

“Die munisipaliteit het hoëprioriteitgebiede in die dorp identifiseer – waar pype gereeld bars – en die ou pype word nou met moderne tegnologie en met nuwe pype vervang,” lui ’n onlangse persverklaring van die BM.

Hierdie projek word gesamentlik deur die departement van water en sanitasie se waterdienste-infrastruktuurtoelaag (R3,15 miljoen) en Bergrivier-munisipaliteit (R7,35 miljoen) gefinansier.

“ ’n Ondersoek is deur ’n onafhanklike konsultant gedoen om die verouderende waterpyp-infrastruktuur te ondersoek en te bepaal of ’n pypvervangingsprogram nodig is.

Nadat die studie voltooi is, is die munisipaliteit aanbeveel om die pypstelsel op te gradeer,” het Wikus Burger, ’n sivieledienste-tegnikus by die BM, gesê.

Ongeveer 10 plaaslike algemene werkers is deur die kontrakteur aangestel om mangate te help bou sodat die stelsel opgeknap kan word.

Die BM het alle inwoners in sy verklaring vir hul volgehoue geduld en begrip vir die duur van hierdie projek, wat teen einde Mei voltooi behoort te wees, bedank.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article