Sterk jeugleiers vir die toekoms.
Hierdie vooruitsig is die dryfveer agter die bou van die langverwagte Pietie Fredericks-jeugsentrum in Piketberg. Die goeie nuus is dat die bouprojek goed vorder en byna voltooi is.
Volgens Matthew Sheldon, woordvoerder van die Bergrivier-munisipaliteit (BM), sal die instansie ’n “sentrum van uitnemendheid wees wat holistiese jeugontwikkeling sal fasiliteer”.
BM het die plaaslike inisiatief vir gemeenskapsbevordering (Initiative for Community Advancement) aangestel om die sentrum te bestuur. Die jeugsentrum word in twee fases voltooi met die opleidingsaal, kantoorruimte en nasorgfasiliteit wat in fase een voltooi word. Fase twee sluit ’n rekenaarsentrum en verdere opleidingsfasiliteite in. Sheldon sê slegs plaaslike kontrakteurs is in die projek gebruik en “dit is duidelik dat daar groot potensiaal in ons gemeenskap in die konstruksiebedryf is”.
Alletta van Sittert, bestuurder van strategiese dienste by die munisipaliteit, sê een van die BM se groot uitdagings is ’n gebrek aan voldoende ontwikkelingsgeriewe vir die jeug.
“Die munisipaliteit het besluit dat die Pietie Fredericks-jeugsentrum ’n geskikte jeugontwikkelingsinisiatief sal wees. Om ’n geïntegreerde benadering te verseker, word jeuggeriewe met ander behoeftes gekombineer om maksimum benutting en ’n holistiese benadering tot die samelewing as ’n geheel te skep,” het sy verduidelik.
Volgens Ray van Rooy, burgemeester van BM, is besluit om die geriewe te noem na Pietie Fredericks, wat voorheen vir die regte en die verbetering van die lewensgehalte van Piketberg se jongmense baklei het.





