Met nuwe woema verskaf die Vrydagaand voor hul tuiswedstryd teen Langebaan deur een van die plaaslike predikante, Michael Smith, het die Rhino’s die span van Langebaan verlede Saterdag aangepak.
Die wedstryd het aanvanklik stadig begin deurdat albei spanne eers hul opponente wou leer ken. Dissipline was aan die orde van die dag en die wedstryd het heel rustig voorgekom. Langebaan kon eerste punte aanteken nadat ’n strafskop verdoel is deur sy stelskopper en heelagter, Brendon Olivier, om die telling na 3-0 te neem.
Ná goeie samespel en deurdat die bal deur verskillende hande geneem is, slaag Olivier daarin om die bal oor die doellyn aan die regterkant van die veld te neem. Ná ’n mislukte doelskop loop Langebaan met 8-0 voor.
Piketberg probeer hierna om met elke vryskop of strafskop die spel vinnig te maak deur tikskoppies te neem. Sashin Dirks, die Rhino’s se voorste driedrukker, slaag egter later daarin om ’n vinnige tikskoppie te neem en hardloop sodoende 40 m ver die veld af om die bal onder die pale te plaas.
Dit wil voorkom of daar geen einde aan die 18-jarige skrumskakel se briljante spel is nie en dat hy binnekort deur provinsiale spanne opgeraap kan word.
Ná ’n goeie breukslag deur die losskakel van Langebaan, Howard Adams, kon Ivor van Bogen daarin slaag om te gaan druk nadat die Rhino’s twee verbroude duikslae uitgeoefen het om die rustydtelling op 13-5 te staan laat kom.
Die tweede helfte het aanvanklik vir groot drama gesorg. Sashin flous sy opponente en nael veldaf waarna hy die bal aan Christophai Booise besorg wat dit oomblikke later aan Sashin terug aangee om aan hom sy tweede drie te besorg.
Met die telling op 13-12 in die guns van Langebaan kon die Rhino-spelers die vorige aand se motiveringspraatjie in herinnering oproep. Die inskoppe word hierna deur Sashin beheer en hy dwing Langebaan met een van sy inskoppe om die bal ’n paar meter oor die kantlyn naby hul eie doelgebied te jaag.
Vir ’n lang tyd bly die uitslag hierna onveranderd. Langebaan val keer op keer aan en word beloon vir sy pogings deur weer eens te gaan druk nadat Piketberg die bal nie onder beheer kon kry nie. Ná nog ’n mislukte doelskop kom die telling op 18-12 in Langebaan se guns te staan.
Piketberg dink hierna aan die feniksvoël wat elke 500 jaar homself uitbrand om net weer uit die as te verrys. Mure Pickard, Piketberg se aflosvleuel, voer minute later die bal in die lug op sodat Christophai Booise op die bal in die doelgebied kon val.
Met die suksesvolle doelskop kon Piketberg daarin slaag om die wedstryd met 19-18 te wen. Dit is ook moontlik gemaak deur die motiveringspraatjie en woorde van die afrigters.
Dit is moeilik om te glo dat Piketberg nou sewende op die punteleer lê, ná slegs een oorwinning.




