Piet Tande het Maandag (11 Desember) by Curro Castle Langebaan besoek afgelê.
Solidariteit Helpende Hand het ’n opname in 2022 gemaak oor ouers se kennis van mondhigiëne vir kinders. Die opname toon dat daar nie ’n duidelike verskil is tussen ouers in verskillende ekonomiese klasse se kennis in dié verband nie. Daarom voer Solidariteit Helpende Hand met Piet Tande, die tandemuis, se hulp ’n veldtog om ouers en kinders se kennis oor die versorging van kinders se tande te verbreed. Piet gee raad oor voeding, hoe om ’n tandeborsel reg te gebruik, gesonde eetgewoontes en hoe om tandprobleme en tandbederf te voorkom. Met hierdie veldtog wil Solidariteit Helpende Hand die gemeenskap opvoed en bemagtig sodat almal sterker en meer onafhanklik kan funksioneer.
Die leerders van Curro Castle Langebaan het heerlik met Piet gesels en op die maat van die spesiale Piet Tande-liedjie saam met hom gedans. Hy het sy besoek afgesluit met ’n fotosessie waartydens die kinders saam met hom afgeneem is.





