Drie rowers het in ’n wit City Golf met ’n CY-registrasienommer van die toneel af gevlug nadat hulle twee petroljoggies van Vredenburg beroof het.


Drie mans in ’n motor, wat twee petroljoggies van die Caltex-vulstasie in Vredenburg van hul selfone beroof het, is vinnig vasgetrek.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die Vredenburg-polisie, het die drie rowers Sondagoggend om 01:35 met ’n wit City Golf by die vulstasie stilgehou.

Die rowers het twee petroljoggies, wat daar aan diens was, genader en hul selfone geëis.

Nadat hulle met ’n vuurwapen gedreig is, het die petroljoggies hul selfone aan die rowers oorhandig en die rowers het in die City Golf gevlug.

Helfrich sê die saak is net vyf minute ná die rooftog aangemeld, wat die polisie in staat gestel het om onmiddellik op te tree.

Lede van die polisie se plaaslike honde-eenheid het die voertuig gewaar en agternagesit.

Die drie rowers is op die hoek van Saldanha- en Diaz-weg in Saldanha voorgekeer en die gesteelde selfone is in hul besit gevind.

Volgens Leonie Fourie, Caltex se bystand-bestuurder aan diens die oggend van die voorval, het sy haar dadelik na die vulstasie gehaas toe sy die nuus ontvang dat die onderneming beroof is.

“Alles het so vinnig gebeur. Toe ons weer sien, is die ouens gevang en is die selfone teruggevind,” het Fourie gesê.

“Ons wil net baie dankie sê aan die polisie vir hul puik en vinnige diens. Hulle was regtigwaar ook baie besorg oor ons twee werknemers wat deur hierdie slegte ervaring geraak is,” het sy bygevoeg.

Die drie rowers, onderskeidelik 23, 23 en 32 jaar oud, het vorige veroordelings en het reeds Maandag in die plaaslike hof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article