Wyle Bernard Pedro by sy kinders Zanne en Bernard Junior.


Droë grappies, sy sku glimlag en ’n groot liefde vir ’n soetdingetjie.

Só sal Bernard Pedro se kinders hom onthou, en boonop was hy ’n pa wat altyd gereed was om wyse raad te gee.

Pedro se gesin worstel met sy sinnelose dood nadat dié sakeman van St. Helenabaai Vrydag 14 Oktober in sy winkel vermoor is nadat ’n rooftog die aand glo skeefgeloop het.

Werknemers het sy liggaam die volgende oggend ontdek.

Pedro word deur kennisse, kollegas en vriende as ’n “ikoon van die plaaslike visbedryf” beskryf.

By Pedro se roudiens, wat Vrydag 21 Oktober in die NG kerk se Moedergemeente in Vredenburg gehou is, het dominee Eric Basson, wat die diens gelei het, die huldeblyke aan die roubeklaers voorgelees.

Die diens is ook regstreeks op Facebook uitgesaai.

Pedro se seun Bernard junior het in sy huldeblyk aan sy pa geskryf dat hy altyd sy pa se swaar voetstappe op die trap ná ’n lang werksdag sal onthou, sy blokkieshemp en Saterdagaande se vis en tjips saam met sy pa terwyl droë grappe vertel word.

“Hy sou altyd vra ‘wat drink ons?’ en dan drink ons sommer wyn en koffie, want ons kon nie besluit van watter een ons meer wil hê nie. Op 26 het ek meer vrae as antwoorde en daar is nog so baie wat ek vir Pappa wou vra, maar my grootste trots is die eer om Pappa te kon liefhê,” het Bernard jr. geskryf.

Zanne Pedro het in haar huldeblyk vertel sy het die Donderdag voor haar pa se dood nog vir hom oor die foon gesê sy is lief vir hom. Sy was in ’n winkelsentrum in Stellenbosch en die sein was baie swak, maar sy het ’n punt daarvan gemaak dat haar pa gehoor het dat sy hom liefhet. En hieroor sal sy “ewig dankbaar” wees.

“Dit was so skielik en sinneloos en ek is bitter omdat Pappa nie hier is om my te laat beter voel nie. Hy het nooit ’n geleentheid laat verbygaan om met sy kinders te gesels nie.”

Zanne het Pedro as ’n saggeaarde mens en liefdevolle pa beskryf.

Vier mense van St. Helenabaai is Dinsdag 18 Oktober met betrekking tot die sakeman se tragiese dood deur die polisie in hegtenis geneem en ondervra.

Onwettige ammunisie is in een van die verdagtes se huis in Steenberg’s Cove gevind.

Die vier mense word nie aangehou nie en die ondersoek duur onverpoosd voort.

Kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, het Dinsdag aan Weslander gesê geen nuwe inligting met betrekking tot die moordondersoek kan bekend gemaak word nie.

’n Ma van een van die vier verdagtes wat deur die polisie ondervra is, het aan Weslander gesê dis nie net Pedro se gesin wat swaarkry nie.

Sy sê die nadraai van die moord met betrekking tot die ondersoek is uiters traumaties vir haar en haar gesin omdat hulle in ’n klein gemeenskap woon waar almal mekaar ken en baie mense nou haar kind onregverdig veroordeel.

“Volgens my is my kind net deur die polisie ondervra en was glad nie by die moord betrokke nie. Ek glo regtig my kind het niks daarmee te doen gehad nie,” het sy bygevoeg.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article