Pearl Adams (22), wat in die Weskus gebore en getoë is, maak goed naam in haar gospel-musiekloopbaan.
Dié gospelsanger het in Vredenburg grootgeword in ’n huishouding waar Christus ’n groot faktor is. Pearl sê haar ouers het haar oor Jesus en Christen-beginsels geleer, en dis waar haar liefde vir die kerk ontwikkel het. Sy onthou sy het haar hart op 12-jarige ouderdom vir die Here gegee.
Wanneer dit kom by haar liefde vir musiek en waar alles begin het, vertel Pearl haar ouers is ’n goeie voorbeeld van waar dit ontwikkel het. “My ma en my pa het albei in ’n band gesing, en dis waar hulle mekaar ontmoet het en hulle is vandag nog getroud.”
Pearl is met die ondersteuning, vertroue en gebede van haar familie gereed om alles in die lewe aan te durf.
“Musiek is ’n verskriklike mooi ding om na te luister, en dit laat jou altyd beter voel. Ek en my familie het altyd paduitstappies gedoen en ons het altyd in die kar saamgesing. Dis waar ek ontdek het ek kon sing. Musiek het deel van my lewe geword en ek het ’n passie daarvoor kry. Ek het ontdek dat ek mense deur my musiek kan bemoedig en mense se lewe kan verander,” vertel sy.
Dié jong sanger het al baie hoogtepunte in haar lewe gehad en die verhoog met groot name gedeel, soos Jonathan Rubain en ander plaaslike musiekkunstenaars in Vredenburg.
Sy is ook die afgelope drie jaar deel van die bekende gospel-groep The Jesus Collective (TJC). Om van hierdie groep deel te wees, is ’n droom wat vir Pearl waar geword het. “Ek het by Jonathan by Pinkster in Grand West gesing. Min het ek geweet dat TJC in die gehoor was. Die Maandag daarna het die stigter van TJC my genader en my na een van hul uitreike genooi, en dit was die begin van groot dinge!”
Pearl het ’n liedjie met die titel “No greater love” vir die bekendstelling van TJC se Restored-album in Augustus 2022 geskryf. Vir haar kom die boodskap en inspirasie van die liedjie van die kruisiging van Jesus. “Ek het besef as dit nie vir die liefde van die Here was nie, sou ons nie vandag losgekoop kon wees van die bloed van die lam nie. Die kruisiging was ’n offer vir ons.”
As ’n ware kind van die Weskus, moedig Pearl jongmense in haar gemeenskap asook elders aan om nie hul drome te laat vaar nie.
“Onthou om Jesus altyd in jou bootjie te sit, en wanneer God jou ophef, bly altyd nederig.”
Sy wil graag haar geestelike pa, biskop Edmund Gregory Losper, asook Heindra Cloete, Gunaida Samuels, Hilton Pietersen en pastoor Aubrey Makok bedank.
“Ek het groot waardering, en dankie ook aan my familie!”





