Die alombekende plaaslike musiekkunstenaar Vigeniëa Payne is gereed om almal op hul voete te hê by die 2023 Hopefield-fynbosskou. Hierdie jaar is Vigeniëa se tweede optrede by die Fynbosskou.
Vigeniëa is ’n musiekliefhebber wat al van haar kinderjare reeds aan musiek blootgestel is. In die huishouding van vyf kinders was daar een kitaar wat die ronde tussen hulle gemaak het. Tot nou toe in hul grootmenslewe is al vyf van hulle musikaal, vertel sy.
Vigeniëa glo musiek is die hartklop van mense en dat dit alle grense oorskry. Sy glo dit bring mense bymekaar en raak almal op een of ander manier.
Sy verduidelik dat haar musiekrepertoire baie groot is en dat daar iets vir almal is. Van ballades en country tot pop, soft rock en soveel meer. Haar lys strek oor meer as 400 liedjies. Vigeniëa skryf ook graag haar eie liedjies. “Ek skryf eintlik vanuit die hart. Ek skryf graag oor die lewe en oor dinge wat die siel raak – realistiese lirieke, as ek dit so kan stel.” In haar musieklewe en waar sy tans is sê Vigeniëa sy verwelkom elke uitdaging.
Rakende die Hopefield-fynbosskou, sê Vigeniëa mense vind aanklank by die Afrikaanse musiek en dis iets wat hulle verskriklik geniet.
“Baie van die liedjies is ou musiek, dan blaas ek net ’n klein bietjie lewe daarin en dis lekker om te sien hoe die mense hul koppe knik en wys dat hulle dit onthou.”
Wat hierdie vier dae lange optrede nog meer indrukwekkend en spesiaal vir Vigeniëa maak, is die feit dat haar seun Clint Payne saam met haar die verhoog gaan aanpak op die baskitaar.
“Ek is so dankbaar dat ek nog lewe en dat hy saam met my die verhoog kan deel en mense gelukkig maak.”
Vigeniëa bedank almal wat haar deur die jare ondersteun. “Ek glo my Skepper sal my lei vorentoe. Terwyl ek mense nog gelukkig kan maak sal ek aan- gaan.”





