Leonardo Bester dra die nr. 14-trui vir Paternoster en vlieg sierlik deur die lug vir sy span se tweede drie teen Piketberg Saterdag op sy tuisveld.Foto: Alida Buckle


Paternoster het Piketberg Saterdag op sy tuisveld met 43-18 afgeransel nadat Paternoster rustyd 19-6 voor was.

Paternoster het met dié oorwinning ook sy statistiese kans om die uitspeelrondes te haal, lewendig gehou – in die hoop dat die drie spanne voor hom struikel.

Piketberg het moedig probeer, maar kon nie al die gate toestop nie.

Piketberg het die tuisspan vir die eerste helfte van die wedstryd op die agtervoet gehou, maar kon nie voordeel trek uit Paternoster se hanteerfoute nie.

Die tuisspan het eerste bloed geruik met ’n onverdoelde drie, maar daarbenewens het die eerste helfte van die wipplankstryd nie juis opwinding opgelewer nie.

Paternoster het wel in die tweede helfte gespeel soos ’n span wat op pad is na die uitspeelrondes en die besoekers moes keer vir al wat hulle werd was.

Boland Rugby se Grootuitdaagbeker-reeks staan nou vinnig einde se kant toe. Vredenburg het Saterdag gerus, maar sy eerste plek op die punteleer behou. Hy het nog drie wedstryde oor.

Saldanha, wat altyd sy beste vir laaste hou, het Saterdag die Cove 58-13 getroef en is gereed om die Weskus in die uitspeelrondes te verteenwoordig.

Die “blou tsoenami”, wat tans die tweede plek op die punteleer beklee, het egter ’n wedstryd meer as Vredenburg en St. Helenabaai, wat in die derde plek is, gespeel.

St. Helenabaai het Saterdag op sy tuisveld ook verseker hy sal bepaal wie die Weskus in die uitspeelrondes gaan verteenwoordig.

Dié span het Langebaan 38-28 geklop en is met ’n wedstryd minder vier punte agter Saldanha.

Dit is nou elkeen vir homself in die streek en nie een van die drie topspanne kan bekostig om nou te struikel nie.

Young Hearts het ook Saterdag Hopefield se drome vir die uitspeelrondes op die Grafkelder met sy oorwinning van 37-29 begrawe. Velddrif het Mamre in sy voorlaaste wedstryd van die seisoen met 17-13 getroef.

Die volledige uitslae is soos volg:

. Weskus: Saldanha 58-13 Steenberg’s Cove; Paternoster 43-18 Piketberg; Young Hearts 37-29 Hopefield; St. Helenabaai 38-28 Lange­baan; Velddrif 17-13 Mamre.

.
Swartland: Wesbank 75-12 Young Eagles; Abbotsdale 31-25 Riebeeck United; Porterville 30-19 Never Despair; Villagers Wittewater 15-17 Goodhopes; Moorreesburg 29-7 Saron.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article