’n Groot groep volwassenes en kinders het hande gevat en ter viering van Wêreld Oseanedag op 8 Junie sowat sestien swartsakke vol rommel van Paternoster se strand verwyder.
Volgens Elmarie Melson van Super Auto Marine-boothandelaar in Vredenburg wat die projek gelei het, is daar tussen die rommel veral plastiekbottels, plastiekdoppies, plastieksakke, visnette, vislyne en stukke tou gekry.
Melson het benadruk dat hulle die projek saam met Paternoster Operative, Hoopsig en Pelgrim’s Place aangepak het. Die groep het bestaan uit 35 volwassenes en 30 kinders wat help skoonmaak het omdat hulle “baie besorg is oor die toestand van die Weskus se strande”.
Hulle wou ook op dié manier aan die omgewing teruggee. Volgens Melson is skoon oseane die kern van hul onderneming se etiek en ’n missie wat hulle graag wil bereik en bewusmaking oor wil skep. Ná die opruiming, wat sowat twee uur geduur het, is ’n groot bewusmakingskunswerk deur die groep volwassenes en kinders gemaak. Melson het dit as groot pret beskryf, en gesê dat hulle dit met trots aanskou het.





