Paternoster het Saterdag op sy tuisveld Langebaan 29–17 geklop vir dié span se eerste oorwinning van die seisoen. Die tuisspan was rustyd reeds 24-3 voor, maar kon nie juis veel vermag in die tweede helfte nie.
Die tuisspan het die besoekers in die eerste 40 minute van die wedstryd meeste van die verdedigingswerk laat doen. Paternoster, wat op enige dag enige span kan klop, moes egter in die tweede helfte hard werk vir die oorwinning en die besoekers het meeste van die vrae gevra.
Paternoster het met hierdie bonuspunt-oorwinning na die vyfde plek op die punteleer gespring.
Met Saterdag se laaste wedstryde voor die spanne kerrievis gaan eet, is daar een span wat swaar aan sy vis sal sluk. Mamre, wat tydelik geskors is, sal hierdie week hoor wat sy lot is nadat die wedstryd teen Saldanha onplesierig geëindig het.
Die grootste verrassing was beslis die uitslag teen Hopefield wat Saldanha in ’n wegwedstryd gepak het. Die twee spanne het met 21 elk gelykop geëindig, wat die puntestand ná drie wedstryde redelik gelykop maak.
Steenberg Cove het ook die soet van sy eerste oorwinning geproe toe die Agterbaaiers Piketberg in sy eie agterplaas geklop het.
Cove sal egter nou moet wag en kyk of sy uitstappie na Mamre Saterdag wel gaan gebeur.
St. Helenabaai het ook sy staal getoon en bewys dat spanne 80 minute teen hom sal moet speel om te wen. Die span het Velddrif in ’n wegwedstryd geklop.
Ruben Abels se Young Hearts, wat ’n ruskans geniet het, pak Saterdag Velddrif op die Grafkelder.
Ander uitslae:
. Weskus
Saldanha 21 – 21 Hopefield, Velddrif 16 – 35 St Helena, Steenberg’s Cove 25 – 12 Piketberg;
.
Swartland
Abbotsdale 51 – 32 Never Despairs, Wesbank 30 – 17 Goodhopes, Moorreesburg 31 – 30 Porterville, Darling 30 – 14 Saron en Young Eagles 7 – 5 Riebeeck United.
Wedstrydbepalings vir die naweek:
.
Swartland
Villagers Wittewater t. Moorreesburg, Never Despairs t. Wesbank, Porterville t. Abbotsdale, Good Hopes t. Darling, Saron teen Young Eagles.
.
Weskus
Young Hearts t. Velddrif, St. Helena t. Paternoster, Langebaan t. Saldanha, Hopefield t. Vredenburg.





