’n Rustige Sondag ná kerk het in ’n tragedie ontaard toe ’n skietvoorval op 2 Junie in Louwville afgespeel het.
Die 22-jarige Shannon Diedericks is helder oordag in Maclonstraat, Louwville, geskiet – dít nadat Diedericks vroeër die oggend gedoop is en ook op die dag van sy seuntjie se inseëning.
Sy ma, Carmen Diedericks, vertel dat Shannon en ’n vriendin huis toe gestap het toe die skietery omstreeks 12:00 gebeur het.
“Hulle het so ’n entjie geloop toe sien hy die man agter hulle. Hy het vir sy vriendin gesê dit lyk asof die man ’n vuurwapen het. Hy het toe padgegee van haar af en dis toe die man agter hom die kans geneem het om hom te skiet.
“Dit is nie net skokkend omdat dit deur die dag gebeur het nie, maar ook omdat hy uit die kerk uit gekom het. Hy het ’n besluit gemaak om die Here aan te neem in sy lewe.”
Carmen sê nadat die verdagte Diedericks in die rug geskiet het, het Diedericks na ’n ander kerk se terrein in dieselfde straat gehardloop, waar hy inmekaargesak het. “Die man het hom met die vuurwapen gekap – twee houe agter die kop – en weer vier keer probeer skiet, maar die vuurwapen het vasgehaak.” Die gemeente van dié kerk het uitgekom en vir Diedericks begin bid totdat die ambulans gekom het.
Carmen beskryf Diedericks as ’n mense-mens. “Hy het duisende vriende, ken almal en almal ken hom, maar ken nie die man wat hom geskiet het nie.”
Diedericks het twee operasies ondergaan en sterk tans in ’n hospitaal in Kaapstad aan.
Hierdie voortslepende geweld in die gemeenskap sit nie wel met inwoners nie nadat nog ’n skietery verlede Saterdag (25 Mei) aangemeld is.
Norman van Wyk, ’n gemeenskapsaktivis en wykskomiteelid, sê met die onlangse geweld voel baie dat Suid-Afrika heeltemal wetteloos geword het. Van Wyk se een seun is verlede jaar ook in daglig in Witteklip aangerand en vermoor (“Local leader’s son killed”, Weslander, 31 Augustus 2023).
Van Wyk sê gemeenskaplede voel die polisie is oorweldig, onderbeman en het nie die nodige hulpbronne om die vlaag geweld te stop nie.
“Ons jongmense het meer toegang tot onwettige vuurwapens en ons kom ook agter dat dit vuurwapens is wat van buite af kom, en dit is ’n groot kommer. Ons is dankbaar dat Shannon buite gevaar is – hy is een van die min geseënde jong manne wat dit gemaak het.”
Nog ’n inwoner, wat anoniem wil bly, sê baie vergaderings is al oor gemeenskapsveiligheid gehou en die gemeenskap praat, maar niks word daaraan gedoen nie.
“Dit is hartseer en skrikwekkend. Op die ou einde weet ’n mens nie meer waar jy veilig is nie – of dit nou binne jou huis of buite jou huis is, die kwaaddoeners wag vir niks nie.”
Kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het bevestig dat ’n klag van poging tot moord ondersoek word.





