Twee paramedici van West Coast Medical Rescue (WCMR) het verlede week brandwonde opgedoen nadat twee suurstoftenks glo in ’n fratsongeluk ontplof het.
Die omstandighede waarin Elowayne Gouws, WCMR-direkteur, en sy kollega Rex Simpson verlede Vrydag beseer is, is nog onduidelik.
So ver vasgestel kon word, het Gouws en Simpson erge brandwonde aan hulle gesigte en bolywe opgedoen.
Boodskappe waarin die twee paramedici beterskap toegewens word en huldeblyke van die professionele en omgee-manier waarop hul pasiënte en hul familielede behandel, het sosialemediabladsye vir die Weskus ná die voorval oorstroom.
Die families het gevra dat hulle privaatheid gerespekteer word en wou nie meer sê as dat Gouws en sy kollega in baie pyn verkeer, maar goed aansterk nie.
’n Woordvoerder van WCMR het gesê hulle wil tans geen kommentaar oor die voorval lewer nie.



