Ná twee jaar as waarnemende skoolhoof van Panorama Primêr neem Hylton Langley in Julie amptelik die leisels oor as dié skool se nuwe hoof.
Sy aanstelling kom met sy passie vir sy leerders en ’n liefde vir die onderwys as geen verrassing nie.
Langley het in 2022 ná die dood van Virginia Vraagom as waarnemende skoolhoof oorgeneem. Langley is glad nie ’n vreemdeling by die skool nie en is sedert 1991 aan die skool verbonde. Hy het die eer gehad om saam met sy pa, Norman Langley, ook by Panorama Primêr skool te hou.
Langley is ’n boorling van Hopefield en het sy laerskoolloopbaan by Hopefield Primêre Skool begin. Daarna het hy sy hoërskoolloopbaan by die Hoërskool Weston voltooi.
Ná skool het hy sy onderwysdiploma aan Bellville Onderwyskollege verwerf, waar hy in menslike bewegingskunde en biologie spesialiseer het.
Hy het egter nie daar opgehou nie en in 2004 ’n gevorderde diploma in wetenskap aan die Universiteit van Kaapstad verwerf. In 2008 het hy sy B Ed Honneursgraad aan die Universiteit van Wes-Kaapland voltooi, en in 2012 het hy ’n gevorderde onderwysdiploma in skoolbestuur aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.
Drome
Ander hoogtepunte in sy loopbaan sluit in dat hy in 2015 die provinsie se naaswenner by die Nasionale Onderwystoekennings en ook afrigter van verskeie Boland Cravenweek-spanne was. Hy het ook die geleentheid gehad om skoolspanne na Australië en Frankryk te vergesel – iets wat hom altyd sal bybly.
sê Langley.
Iets waarna Langley baie uitsien, is om die skool se nuwe gebou voltooi te sien. “Ek beskou hierdie skool – spesifiek ons nuwe skool – as ’n baken van hoop vir ons gemeenskap en ons moet nou alles in die stryd werp om hierdie projek af te handel.”
Langley sê hy is baie lief vir sy Pannies-kinders. “Om hulle elke dag by die hek te groet, is kos vir my siel. Ek wil ’n ideaal in die gemeenskap vestig dat Panorama ’n skool is waar drome verwesenlik word en positiewe verhoudings geskep word deur die daarstelling van ’n skool waarop almal trots kan wees. Ek wil hê dat mense buite Panorama ook die behoefte sal voel om deel van hierdie suksesverhaal te wees.”
Langley voeg by mense leef in ’n tyd waarin die onderwyssektor voor ongekende uitdagings te staan kom, en dit sluit in tegnologiese vooruitgang, veranderende kurrikula en die behoefte om leerervarings te moderniseer om leerders vir ’n steeds veranderende wêreld voor te berei. “Maar ek glo vas dat ons, as ’n verenigde span, hierdie uitdagings kan aanpak en ’n skool kan bou waarop ons almal trots kan wees.
Op daardie noot, sê Langley, is hy meer as gereed vir die taak wat voorlê.





