Die polisie en plaaslike plaaswag destyds op die toneel nadat vyf rowers op 14 Maart tussen Velddrif en Dwarskersbos vasgetrek is. Foto: RNFW


Die vyf verdagtes in die padstal-roof se borgtogaansoek is verlede week van die hand gewys.

Weslander het op 17 Maart berig dat gewapende rowers op 14 Maart op Die Skooltjie-padstal in De Plaat, Velddrif, toegeslaan het.

Die rooftog het omstreeks middagete by die padstal plaasgevind waar vyf rowers mense wat brood by die winkel afgelewer het, met messe en vuurwapens getreiter het.

Nadat die rowers die slagoffers agter in die afleweringswa toegesluit het, het iemand wat daar verbygery het die polisie laat weet. Die verdagtes se voertuig is tussen Velddrif en Dwarskersbos voorgekeer. Die rowers het gevlug en is agterna gesit, waarna die polisie hulle aangekeer het.

“Die flink optrede van die polisie en buurtwaglede het gelei tot die beslaglegging op drie vuurwapens en al die gesteelde goedere is teruggevind,” het kapt. Tania Helfrich, polisiewoordvoerder, gesê.

Volgens haar is die verdagtes al meer as twee maande in aanhouding en is verlede Woensdag weer borgtog in die Laaiplek-landdroshof geweier.

Die saak is tot 22 Junie uitgestel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article