’n Ongeluk op die R399 (Velddrif- Vredenburgpad) op Vrydag 28 Februarie.Foto: Noluvu Ludidi


Die afgelope week is die Weskus weer deur verskeie motorongelukke geruk.

Dinsdag 4 Maart het drie ongelukke in ’n kwessie van twee ure plaasgevind. Met weerstoestande wat voortdurend verander, word motoriste gemaan om versigtig en waaksaam te bestuur, veral in nat en mistige weer.

Die eerste ongeluk van die oggend het net voor 07:00 gebeur. Tania Helfrich, woordvoerder van die Weskus-polisiedistrik, bevestig dat die ongeluk op die R399 (Velddrif-Vredenburgpad) plaasgevind het. Twee busse en ’n Polo Vivo was hierby betrokke. Een bestuurder het ernstige beserings opgedoen.

“Die een bus het agter die ander een ingery en met die uitswaai het die bus teen die Polo Vivo gebots.”

Nie lank daarna nie het ’n ongeluk op die R45 net voor die Southern Bypass-afdraai plaasgevind waar ’n bus en ’n bakkie in ’n botsing betrokke was. Helfrich sê 26 mense was betrokke, maar net 21 mense is hospitaal toe vir verdere mediese sorg.

Net ná 08:00 het nog ’n ongeluk op die R45 Langebaanweg-oorgang gebeur waarin twee voertuie betrokke was.

Een persoon het hier ernstige beserings opgedoen en moes met reddingskake uit die wrak gesny word, terwyl nog twee persone ligte beserings opgedoen het.

Die jongste ongelukke volg op twee ernstige motorongelukke die afgelope naweek waarin twee persone oorlede is.

Vrydag 28 Februarie omstreeks 12:30 op die R399 (Velddrif-Vredenburgpad) het ’n motor ’n versperring getref en omgeslaan nadat die bestuurder vermoedelik beheer verloor het. Drie passasiers is beseer en die 42-jarige Nozenzile Ncokuazi is op die toneel dood.

Sondag 2 Maart, omstreeks 05:18, het ’n ongeluk op die MR559 naby Strategic Fuel Fund plaasgevind. Met die aankoms van mediese personeel op die toneel was die motor op sy dak nadat die bestuurder vermoedelik beheer verloor het. Paramedici het met hul aankoms een persoon gevind wat in die voertuig vasgekeer is en ’n ander wat onder die voertuig vasgekeer is. Reddingskake is gebruik om albei vry te laat, maar dié 33-jarige Inachio Williams is op die toneel dood verklaar.

Die omstandighede rakende die ongeluk word ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article