’n Doodgewone Saterdagaand se kuiertjie saam met vriende by ’n kuierplek het vir ’n 39-jarige man van Vredenburg begin skeefloop toe ’n bakleiery by Cheers in Velddrifweg uitgebreek het.
Wat presies tussen dié bakleiery en Garth Williams, ’n bekende boorling van die Burg, se dood later die aand met sy aankoms by die Vredenburg- provinsiale hospitaal gebeur het, is hoofsaaklik net bespiegelinge.
Die Weskus-polisie wil niks meer sê as dat die oorledene Saterdagaand met ’n private voertuig van die Funky Lemon-nagklub in Hoofstraat, Saldanha, na die hospitaal geneem is nie.
Hy het verskeie skietwonde gehad.
Die Wes-Kaapse teenbende-eenheid, ’n onderafdeling van die polisie se eenheid vir georganiseerde misdaad, het Dinsdag die saakdossier oorgeneem en ondersoek die omstandighede rakende die skietery voor die nagklub.
Skote is na bewering ook in Hoofstraat op die voertuig, waarin Williams na die hospitaal onderweg was, in die omgewing van Captain’s Cabin en die BP-vulstasie in Hoofstraat geskiet.
’n Lykskouing is gister (Woensdag 24 Mei) gedoen, maar die uitslag wat die presiese oorsaak van dood insluit, was teen druktyd nog nie beskikbaar nie.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie en die motief vir die moord is nog onbekend.
Wat wel duidelik is, is dat Louwville oor Williams rou. Sy skoonsuster Shereen Williams (54) praat met ’n knop in die keel van dié pa van drie kinders en pleegpa vir sy oorlede broer se vier kinders. Sy afsterwe laat ’n enorme leemte vir sy familie en vriende. “Ons is geknak. Al wat ons kan doen, is om die saak in die Here se hand te los, sodat geregtigheid kan geskied.”
Williams se begrafnis word vir 3 Junie vanuit sy huis in Yskor, Louwville, beplan.


