Die soektog na die vermiste Gino Dira duur voort.


Daar is nog baie vrae rakende die verdwyning van die Saldanhabaai-inwoner Gino Dira (25).

Gino is sedert Vrydag 29 Julie vermis nadat hy die middag gaan stap het. Soos sy ma Jamiela Dira vroeër aan Weslander vertel het, was dit nie ongewoon van Gino om middae te gaan stap nie, maar hy sou altyd terugkeer huis toe.

“Die wat hom gewoonlik sien verbyloop, het hom nie weer sien terugkeer nie,” het sy vertel. Dit was veral swaar vir die familie om sy 25ste verjaardag Saterdag 13 Augustus sonder hom deur te bring. Sy pa Samuel Dira vertel dat hy baie hartseer en bedruk was op dié dag en dat hy jaarliks die eerste ding sy seun bel om hom geluk te wens.

“Ek glo wel dat my kind nog lewe,” vertel Samuel. Hy is veral hoopvol nadat sy seun se blou Nike-insteekplakkies, wat hy op die dag van sy verdwyning gedra het, naby die strand gevind is. Samuel het 16 jaar in die vloot gedien en het baie vrae oor die omstandighede van Gino se verdwyning en analiseer elke moontlike situasie en bevinding.

“Ons kan nie net aanvaar dit is wat dit is nie, daar moet aandag gegee word aan die klein besonderhede,” vertel hy.

AO Yolanda Kotze, woordvoerder van die Saldanha-polisie het bevestig dat blou Nike-insteekplakkies wel op die strand naby die rotse by die Tabakbaai-vakansieoord gevind is.

“Die ondersoek gaan nog voort en daar is nog geen teken van hom nie.”

Intussen bly die familie hoopvol en bid vir sy veilige terugkeer huis toe.

Enigiemand met verdere inligting rakende Gino, kan AO Johannes van Antwerpen van die Saldanha-polisie by 022 714 8333 skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article