Lede van die Vredenburg-polisie wat Sondagoggend (21 April) op ’n klagte van gesinsgeweld in Pleinstraat reageer het, is deur ’n gyselaarsdrama begroet.
Die 35-jarige man het sy agt maande oue babaseuntjie en homself in die huis toegesluit en geweier om die baba vir sy ma te gee.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het die baba se 24-jarige ma vir die polisie gesê dat die man die hele Saterdagaand uit was en die oggend besope by die huis aangekom het.
Die vrou wou met die kind weggaan, waarop hy glo aggressief geraak en haar aangerand het. Hy het die baba by haar gegryp en die huis se deur agter hulle toegesluit.
Die ma en die polisiebeamptes het tevergeefs probeer om hom te oorreed om die deur oop te sluit en die baba vir sy ma te gee.
Die hulp van ’n gyselaarsonderhandelaar van Kaapstad is ingeroep.
Die eienaar van die huurhuis het later die spaarsleutel gebring sodat die polisie die huis kon oopsluit.
Die man het egter die gyselaarsonderhandelaar met ’n ketel vol kookwater gejaag. Hy het egter ’n senior polisiebeampte met die kookwater raakgegooi.
Die polisiebeamptes kon hierna daarin slaag om hom tot bedaring te bring, waarop hy in hegtenis geneem is.
Helfrich het gesê die baba is ongedeerd by sy ma en die man het Maandag in die Vredenburg-landdroshof verskyn op aanklagte van ontvoering, aanranding van ’n polisiebeampte, crimen injuria en verset teen inhegtenisneming.. Murphy Roberts van Weskus Nuus berig sers. Aidan Mahoney (44), verbonde aan die Atlantis-polisiekantoor, is verlede Woensdag (17 April) met sy eie dienspistool in Mamre doodgeskiet terwyl hy en ’n kollega ook op ’n klagte van gesinsgeweld in Mamre reageer het.
Die vermeende aggressor, Justin Pick, het Mahoney na bewering oorrompel en van sy dienspistool beroof voordat hy hom twee keer geskiet en ook op die ander lid losgebrand het.
Hy het daarna te voet gevlug, maar is die volgende dag opgespoor en in ’n skermutseling met die polisie doodgeskiet.
Die polisie het vroeër gesê hulle het al verskeie kere dié betrokke adres besoek weens gesinsgeweldklagtes voordat die noodlottige tragedie hom afgespeel het.



