Nadat die brandalarm geaktiveer is, het die bejaarde inwoners en die tehuis se personeel die gebou binne net ses minute ontruim.
“Ons raak al beter. Die vorige keer wat ons die brandoefening voor die pandemie gedoen het, het dit ons agt minute geneem,” sê Karin Hubbard, die bestuurder van Huis Wittekruin in Vredenburg.
Volgens Hubbard is die tehuis veronderstel om ’n brandoefening twee keer per jaar te doen, maar weens die afgelope twee jaar se inperkings en gesondheidsmaatreëls met betrekking tot die Covid-19-pandemie kon brandoefeninge nie gereeld gedoen word nie.
Huis Wittekruin het op 20 September uiteindelik weer die kans gekry om te toets of almal nog onthou wat om in ’n noodgeval te doen.
Hubbard sê almal – selfs die bedlêende inwoners – moes in die brandoefening ontruim word.
Sy sê daar is natuurlik die uitsondering van een of twee mense wat regtig nie onnodig beweeg moet word nie, en dié mense het tydens die onlangse brandoefening in die tehuis onder die toesig van ’n versorger gebly.
“Die brandweer is tevrede met hoe die oefening verloop het en sê dit het baie goed gegaan.”
Terwyl die brandoefening vir sommige van die inwoners ’n ontwrigting is, “bring dit opgewondenheid en energie in die huis” vir ander.
“Ek dink regtig die meeste van die inwoners en die personeel het die brandoefening geniet.”
Hubbard het die brandweer, nooddienste en munisipaliteit vir hul moeite bedank – veral omdat hulle die noodsaaklike brandoefening vir al die inwoners groot pret gemaak het.




