Veral bejaardes bly in die wip van misdadige aanlyn swendelaars, en die afgelope tyd het Weskussers behoorlik deurgeloop.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, het ’n 82-jarige vrou van Laaiplek aan die begin van Junie uitgevind iemand het ’n sim-swap op haar naam gedoen, waarna oor die R10 000 by haar gesteel is.
Op Dwarskersbos het ’n 66-jarige man op ’n advertensie gereageer en R2 200 oorbetaal, net om daarna uit te vind dat dit ’n verneukspul was.
Sowat R27 000 is uit ’n 80-jarige man se rekening onttrek nadat die “bank” gebel het en sy bankkaartnommers versoek het. Die kaarte is hierna “geblok” en die geld is uit die rekening onttrek.
Nog ’n sogenaamde “bankamptenaar” het ’n 81-jarige man van Laaiplek gebel, maar die bejaarde het onraad vermoed en die foon doodgedruk. Die “amptenaar” het dit egter steeds reggekry om R2 052 uit die rekening te onttrek.
Ook in Laaiplek het ’n 75-jarige vrou nagenoeg R10 000 vir ’n kragomskakelaar (inverter) betaal, wat sy nog steeds nie gekry het nie.
In Darling is ’n 68-jarige vrou ook deur ’n “bankamptenaar” gebel, waarna sy ontdek het dat geld uit haar rekening onttrek is.
’n Verneuker het ’n 67-jarige man van Vredenburg gebel en hom meegedeel dat hy (die slagoffer) geld op ’n “platform” verloor het en dat hy, die verneuker, geld aan hom wil terugbetaal. Die slagoffer het op sy banktoepassing ingegaan soos hy aangesê is, waarna hy gesien het R98 988 is uit sy rekening onttrek.
’n Man (63) van Malmesbury is ook duisende rande kwyt nadat hy geld uit sy sogenaamde “belegging” wou onttrek, maar deur die swendelaars wat die “belegging” aan hom verkoop het, aangesê is om nog geld in die belegging “in te betaal”. Ná die inbetalings was daar geen kommunikasie meer rakende die “belegging” nie.
Selfs jonger mense is gevang, soos die 39-jarige vrou van Clanwilliam, wat R78 000 kwyt is nadat sy telkemale onsuksesvol gepoog het om in haar banktoepassing in te gaan. Sy het daarna ’n boodskap ontvang dat eers R15 000 en toe R63 000 uit haar rekening getrek is.
Kollegas van ’n 49-jarige vrou van Saldanha het haar in kennis gestel dat hulle boodskappe kry dat sy geld by hulle wil leen. Die vrou het hierna besef ’n kuberkraker het by haar foon ingebreek en sy was daarna R5 000 armer.
In Moorreesburg wou ’n onbekende man ’n 56-jarige man by die banktellermasjien help, maar in plaas van hulp, is die slagoffer se kaart gekloon en geld uit sy rekening onttrek.
In Langebaan wag ’n 44-jarige vrou steeds op die voertuig wat sy op sosiale media as te koop gesien en betaal het voordat sy in besit van die voertuig was.
’n Gewillige “banktellermasjienhelper” het ’n 56-jarige man van Moorreesburg uit R8 000 gekul, en op soortgelyke wyse ook R25 000 by ’n 66-jarige man gesteel.
Helfrich gee die volgende wenke om op jou die yskas vas te plak sodat dit gereeld gesien en onthou kan word:. Bankinstellings sal nooit hul kliënte bel en meedeel dat ongemagtigde transaksies op hul rekeninge gedoen is nie.. Bankinstellings sal ook nooit vra dat hul kliënte “geld oorplaas na ’n ander rekening” waarvan “hulle” die besonderhede verskaf nie.. Die driesyfernommer agterop die bankkaart (die kaartverifikasiekode), die internetbank se wagwoord en jou PIN-nommer moet onder geen omstandighede aan enigiemand anders gegee word nie, al sê die persoon dat hy of sy van ’n bankinstelling is. Indien ’n sogenaamde bankamptenaar daarvoor vra, is dit vir seker ’n swendelaar.



