Gasspreker, Connie Skelton aan die woord by die ArcelorMittal-transformasiesentrum.Foto: Trish Goosen


Wiskunde, tel en somme moenie soos werk vir kinders voel nie.

Volgens Connie Skelton, die outeur van die Iconic Mental Maths-boekreeks hoef ouers van laerskoolleerders nie noodwendig op ’n formele wyse om ’n tafel te gaan sit vir ’n uur of twee om hulle met wiskunde te help nie.

Sy sê kinders skram gewoonlik weg van hierdie soort hulp, want dit “voel soos werk en is nie pret nie”.

Vroeër in Mei het die ArcelorMitta-transformasiesentrum in Vredenburg ’n wiskunde-inligtingsessie aan ouers van laerskoolleerders gebied waar Skelton die gasspreker was. Sy het praktiese wenke aan ouers gegee om kinders met hul huiswerk te help en op prettige maniere hulle by te staan om hul syfervaar­dighede te ontwikkel. Met Skelton se benadering wil sy ouers help om ’n liefde vir wiskunde al van jongs af by hul kroos aan te wakker.

Sy het by die sessie voorgestel ouers moet daagliks somme deur middel van speletjies en uitdagings deel van die gewone huishoudelike take maak. Tel byvoorbeeld kruideniersware terwyl dit weggepak word of bak koekies. Maak die resep dubbel aan. Hoeveel van elke bestanddeel is nodig vir die aangepaste resep?

Skelton se boeke is op goeie kennis en navorsing gegrond en gebruik internasionaal erkende opleidingsmetodes.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article