Ouers van leerders by Eden Primêre Skool in Vredenburg is bekommerd oor die gesondheid en veiligheid van hul kinders.
Dit volg nadat werkers op Vrydag 16 Februarie begin het om asbes-dakplate by die skool te verwyder.
Ontstelde ouers is van mening dat hul kinders aan die asbes blootgestel is en vrees vir die langtermyn-gesondheidsrisiko’s wat dit kan inhou.
Clinton Ferguson, wie se kleinkind ’n leerder by dié skool is, sê hy het op die dag (16 Februarie) werkers gewaar wat in wit pakke en respirators besig was om asbes-dakplate te verwyder.
Wat vir Ferguson kommerwekkend was, is die feit dat leerders in die gebied beweeg en gespeel het terwyl die asbes- verwydering plaasgevind het en asbesstof waarskynlik in die lug vrygestel is.
Leerders is na bewering ook toegelaat om Maandag 19 Februarie terug te keer na die klaskamers, maar wat Ferguson nie verstaan nie, is dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Akkreditasiestelsel (Sanas) op ’n vergadering waar die skoolhoof, die departement van arbeid se ondersoekbeampte, die subkontrakteur en hoofkontrakteur teenwoordig was, glo bekendgemaak het dat ’n klaringsertifikaat eers Donderdag 22 Februarie vir die volle gebied waar die asbes gesny is, uitgereik is.
“Geen gevaartekens of konstruksietekens was sigbaar nie. Die kinders het aan hul ouers gesê hul klasse was vol stof. Dink vir jouself watter stof dit kon wees as die enigste werk wat plaasgevind het, die verwydering van asbes was,” vra Ferguson.
Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD), het gesê terwyl asbeswerk plaasgevind het, is lugmonitering deur Sansa uitgevoer om die teenwoordigheid van enige lugdraende asbesvesels tydens en ná verwydering te bepaal.
“Verskeie monsters is in hierdie proses geneem en geen asbesvesels is opgespoor nie. Die verslae van die monsters is aan die skoolhoof en die WKOD voorgelê en aan ouers gekommunikeer.”
Volgens Ferguson en ander ouers was daar geen kommunikasie dat sulke werk sou plaasvind nie. Na aanleiding van die gebeure het ’n ander ouer ook gedeel dat daar uiteindelik met die nodige rolspelers gekommunikeer is, hul griewe is gedeel en hulle wag op terugvoering.
Hammond sê alle materiaal wat asbes bevat, is volgens die vereistes van die asbes-werkplan, wat eers by die kantoor van die departement van indiensneming en arbeid ingedien is, verwyder.
Ferguson vra egter die vraag – hoe is die klaringsertifikaat geldig as daar nou nog asbes in die gebied lê wat deel vorm van die klaringsgebied? “Ek en ’n ander ouer het op Vrydag 1 Maart toestemming by die skoolhoof gekry om die gebied af te kordon met rooi lint, wat die gevaarsone afkamp.”
Hammond voeg by die skool het besluit om verdere werk aan die projek as gevolg van die angs wat veroorsaak is, tot die skoolvakansie uit te stel.
“Dit is jammer, want dit sal die projek vertraag.”. Indien enigiemand hul ondersteuning met hierdie kwessie wil toon of enige vrae het, kontak Ferguson by 074 485 0698.




