Hoe lui die gesegde nou weer? Oudword is nie vir sissies nie.
Wel, die twee onderwerpe waarmee die meeste van ons die een of ander tyd gekonfronteer sal word, is oudword en die dood. Kom wat wil, die twee sal by jou deur ’n draai kom maak. Eersgenoemde as jy gelukkig is en laasgenoemde jou nie op ’n jeugdige ouderdom van die hier en nou kom wegneem nie.
Dit was nog altyd vir my fassinerend om byvoorbeeld die proses van oudword by my dierbare ouers waar te neem. Jaar ná jaar gewaar jy hoe hul kragte minder en minder word. Jy troos jou daaraan dat dit maar die verloop van die lewe is en dat jy darem nog dankbaar is dat hulle nog hier is, want soveel ander mense het nie meer die voorreg om ’n ma of ’n pa te hê nie. En natuurlik sal my nou-en- onthou-oomblikke gevul wees met die grootste respek, agting, waardering en liefde vir alles wat hulle vir my opgeoffer het. Dié wat my ouers ken, sal kan getuig van die kaliber mense wat hulle is – waardig, liefdevol, hardwerkend, omgeeharte vir hul naaste, Godvresend en nederig van hart en gesindheid, om maar ’n paar karaktereienskappe te noem.
Dis daai dag toe ek moes vrede maak dat ’n pilletjie hier en daar die knoop sal moet deurhak vir ’n ekstra klompie jare by die huidige, dat ek besef het dat my paadjie kort op die hakke van Pa en Ma ’n harde werklikheid is. Ook daai dag toe die verdomde lettertjies in die boek wat ek besig was om te lees, net nie meer so lekker vlot wil lees soos vroeër jare nie. Kyk, toe weet ek, dis sulke tyd vir my ook – pille-en-brille-tyd. Ja, en jy wat nou hier lees en my uitlag, want jy is nog in jou bokspring twintigs – lag dan maar bo uit, maar moenie sê ek het jou nie gesê dat jou tyd ook sal kom nie. Net voordat jy te lekker kry vir my brille-en-pille-jare, wil ek jou darem ook net herinner dat ek reeds was waar jy nou is. So, ek verstaan.
Van oud wees en oud voel voor my tyd kan jy egter vergeet. Kom nooi my uit vir ’n lekker paar akkeltjies op die dansbaan en ek wys jou waar Dawid daai wortels loop grawe het. Nee kyk, ek was en is ’n yster op ’n dansbaan! My voetspore lê diep getrap tot in Lady Greystraat in die Paarl. Hoe so? Die einste pa en ma van my was en is mense met ’n lus vir die lewe. Kon werk, lag en kuier dat dit skoon aansteeklik is. Ek wil daai tipe voorbeeld volg as ek dan met die volgende tien jaar in my lewe moet vrede maak. Lig en lekker! Ek meen maar, die twee van hulle het pleinweg verseg om van die regering ’n ouderdomstoelaag te aanvaar, want vir wat as hulle dan nog kan werk en blakend gesond is? Wat ’n skreiende kontras met hoe sommige bloedjong mense verkies om in ’n lang ry te loop staan vir ’n paar rand uit die regering se beursie.
Nee wat, laat my eerder oud word soos die omie wat op tagtig nog aan elke straatwedloop wat iewers op ’n Saterdagoggend aangebied word, deelneem. Of die vriendin wat nou die dag sestig geword het en nie ’n dag ouer as vyf en veertig lyk nie; wat vreugde vind in al die lekker dingetjies in die lewe soos om byvoorbeeld ’n hele skaapskenkeltjie kaf te draf, want die lewe is te kort om jou te verknies oor daai ekstra rolletjies om die heupe. En in daai ry te loop staan vir ’n senior aalmoes? Nee wat, daai ry sal haar seker eers hier teen die middel sewentigerjare sien, want die werkywer en lus vir die lewe is nog daar, en haar volgende trip oorsee moet nog afgetiek kan word. Voeg daarby al die lekker-eet-oomblikke wat nog saam met familie en vriende gedeel moet word.
My respek vir mense wat ’n ander perspektief huldig op die saak van oudword. Glo my, ek het al baie hiervan gesien – daai arme siele wat nou maar eenmaal net nie kan ophou kla oor die lysie kwale wat elke week te voorskyn kom nie; vir wie ’n besoek aan ’n kliniek, hospitaal of huisdokter die hoogtepunt van hul week is, of wat pleinweg net bejammer wil word vir hul meerjare en eintlik net sit en wag vir daai oomblik dat die doodsengel sy opwagting moet maak. My innige simpatie, maar die ekke is nog net te vol lewe dat ek vir ’n pil of bril sy laaste sê sal gee.
Ook, bygesê, maak ek vrede met die jare wat aanstap en gedra ek my dienooreenkomstig, want o liewe tyd – het jy al ’n senior burger gesien wat hom of haar soos ’n tiener gedra? Ja, dié kry ’n mens ook . . .
Wag, laat ek my tekkies gaan aantrek vir my volgende tien kilometer se draf.
Veertig my nou. Tagtig my later!





