Richard Smit.Foto: Argief


Nêrens om in die middel van die straat heen te vlug nie, het ’n 32-jarige vrou in Januarie 2022 maar net kon omdraai en hardloop voordat die koeëls uit haar polisiemankêrel se dienspistool haar ten aanskoue van haar kind en familielede in die rug getref het.

Natasha Booise (32) het dié noodlottige Sondagmiddag (2 Januarie) in haar wit hemp en blou denim net daar in die straat gesterf waar sy geval het.

Die vermoorde Natasha Booise.Foto: Argief

Vandag (Donderdag 5 Oktober), ’n jaar en nege maande later, is haar moordenaar, voormalige polisiesersant Richard (Makka) Smit (38) in die Kaapse hooggeregshof skuldig bevind vir moord met voorbedagte rade.

Regter André la Grange het Smit lewenslange tronkstraf opgelê.

Smit het vroeër ingevolge die Strafproseswet 51 van 1977 skuld beken op die aanklag van moord (Aanklag 2) asook vyf ander aanklagte.

Hy het erken dat hy Booise aangerand het (Aanklag 1) deur haar aan die hand vanuit sy blou Renault Sandero te gryp en haar by die kar te probeer intrek. Hiervoor is Smit ’n bykomende drie jaar tronkstraf opgelê.

Booise was op ’n uitstappie saam met haar toe 12-jarige seun en familielede wat van die Paarl kom kuier het. Daar is getuig dat Smit haar deurentyd gebel het en aangedring het daarop om te weet waar sy was. Op die kringtelevisie-opname van die moord, kan gesien word hoe Roslin Kaaiman, haar niggie, naderstap en ook met Smit begin praat.

Een van die ander insittendes in die Renault, Naeemah (Nikita) Titus, het getuig dat Smit hierop sy 9 mm Z88-dienspistool uitgehaal en oorgehaal het. Booise het glo gepleit dat Smit “dit nie moet doen nie”, waarop sy en Kaaiman omgedraai en begin weghardloop het.

Die volgende oomblik het die skote geklap en Booise in die rug getref.

Nadat Smit Booise doodgeskiet het, is getuig dat hy agter Kaaiman aangery het en, soos hy self erken het, haar probeer doodskiet het (Aanklag 3). Hy het glo aan haar gesê dat hy haar gaan “vrek skiet”. Hiervoor het La Grange hom nóg 10 jaar tronkstraf opgelê.

Smit het hom ná die moord aan die polisie oorgegee en is dadelik in hegtenis geneem.

Hy het verder vandeesweek erken dat hy reeds dronk was toe hy in sy Renault geklim het om na Booise te gaan soek (Aanklag 4), waarvoor hy ’n boete van R6 000 of drie jaar tronkstraf opgelê is. Sy bestuurslisensie is ook opgeskort.

Smit het verder erken dat hy sy dienspistool gebruik het terwyl hy dronk én van diens af was (Aanklag 5; die hantering van ’n vuurwapen terwyl onder die invloed van drank) wat hom ’n verdere drie jaar tronkstraf op die hals gehaal het.

Laastens het Smit erken dat hy die dienspistool op Kaaiman gerig het sonder goeie rede om dit te doen (Aanklag 6). La Grange het Smit ’n verdere 12 maande tronkstraf vir dié klag opgelê en hom ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Smit, wie se bloed/alkoholvlak, luidens hofdokumente, 0,2 g/100 ml tydens die voorval was (die wettige perk is 0,05 g/100 ml) het reeds ’n vorige veroordeling vir dronkbestuur. Volgens polisiewoordvoerder kapt. Tania Helfrich is Smit op 14 November 2020 omstreeks 22:30 in dieselfde hoofstraat voorgekeer omdat hy roekeloos bestuur het. Smit, wie se asem volgens die verkeersbeampte wat hom afgetrek het na drank geruik het, het geweier om uit sy voertuig te klim, die voertuigdeure gesluit en van die toneel weggery. Hy is later aangekeer en in hegtenis geneem, waarop hy skuld erken het en ’n R1 000 boete betaal het.

Nog vroeër, in Julie 2017, het Smit ’n boete van R3 000 betaal nadat hy skuld op ’n klag van aanranding erken het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article