Clive “Sarge” Segrys.Foto: Facebook


’n Wyd-gerespekteerde oud-polisieman van Louwville is Maandagaand 5 Junie by die Vredenburg-gholfbaan doodgeskiet.

Clive “Sarge” Segrys (53), wat vir die EPR West-sekuriteits­maatskappy se reaksiespan gewerk het, het omstreeks 22:40 gereageer op ’n alarm wat by die gholfbaan afgegaan het.

Volgens kapt. Tania Helfrich, polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, het twee gewapende rowers Segrys met sy aankoms doodgeskiet. Die polisie ondersoek nog die voorval, maar dit blyk dat hy sy voertuig laat luier het terwyl hy uitgeklim het om die valhek oop te maak.

Twee gewapende rowers, wat kort tevore twee wagte van die Isidingo-sekuriteitsmaatskappy by die gholfbaan van hul selfone beroof en in die wagtekamer ingeboender en toegesluit het, het hom voorgelê.

Helfrich het gesê Segrys is doodgeskiet langs die voertuig wat steeds geluier het met die polisie se aankoms op die toneel.

Die rowers het te voet van die toneel af gevlug.

Volgens Marinda Xavier (52), Segrys se suster, het hy geleef vir sy werk, eers in die weermag, toe die polisie en later sekuriteit.

“Ons is almal so hartseer oor die manier hoe hy dood is, maar dit is hoe hy sou wou sterf. Nie in ’n siekbed nie, want hy kon nooit stilsit nie.”

Sy glo dat die polisieman in hom gemaak het dat hy op die alarm van ’n ander maatskappy se wagte reageer. “Hy was baie nederig en liefdevol.”

Johan Booysen, besturende direkteur van die EPR West-sekuriteitsdienste, het Segrys as innemend, vriendelik, noukeurig en hardwerkend beskryf. “Hy het sy werk baie ernstig opgeneem. Dit is nie net ’n verlies vir sy familie nie, maar vir die hele samelewing. Ek haal my hoed af en ek salueer hom.”

Booysen het verder gesê hulle betreur die voorval en hul innige simpatie met Segrys se naasbestaandes betuig. Hy het gesê hy is beïndruk met die Vredenburg-polisie se flink optrede en die bystand wat hulle op die toneel verleen het.

Segrys laat sy vrou, Christina “Net” Segrys, drie seuns, Clyde, Zandré en Grant, asook ’n dogter, Jade, agter. Benewens Xavier het Clive nog ’n suster, Charlene Keet (47), gehad.

Daar word vir die uitslag van die lykskouing gewag voordat begrafnisreëlings getref kan word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article