Die Suid-Afrikaanse polisiediens het met ’n dringende veldtog begin om voormalige konstabels, sersante en adjudant-offisiere te oorreed om weer aan te sluit en as speurders opgelei te word.
Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van die Weskus-polisiedistrik, is die herwerwingsveldtog om 400 voormalige lede te werf van stapel gestuur om die polisiediens se speurdiensvermoë te verbeter.
Diegene wat wil aansoek doen, moet op 24 Julie, die sluitingsdatum vir aansoeke, jonger as 55 jaar oud wees. Hulle moes aangestel gewees het in die polisiediens ingevolge die Polisiedienswet 68 van 1995.
Suksesvolle kandidate sal in die speurdiens-afdeling geplaas word, ongeag die pos wat hy/sy voorheen in die polisie beklee het. Kandidate wat nie ondervinding of formele speuropleiding het nie, sal onmiddellik aan drie maande opleiding onderwerp word sodra hulle aangestel is.
Die kandidate moet goeie dissiplinêre en bywoningsrekords en ’n kode 8-rybewys hê, en ’n vuurwapen mag besit.
Hulle sal ook in minstens twee tale vaardig moet wees, waarvan Engels verpligtend is, en sielkundige assessering en mediese ondersoeke moet ondergaan.
Oud-polisiebeamptes wat die diens verlaat het weens aftrede, oneervol ontslaan is of ontslaan is hangende die afhandeling van ’n dissiplinêre ondersoek of strafregtelike aangeleentheid, die polisie met ’n skeidingspakket of weens swak gesondheid verlaat het, of medies afgelê is, sal nie vir die poste oorweeg word nie.
Aansoekvorms kan by alle polisiekantore afgehaal of afgelaai word van die polisiedienswebwerf by www.saps.gov.za.
Nog omvattende vereistes word op die webwerf onder “Re-enlistment” uiteengesit.


