’n Afgetrede lugmagkok van Vredenburg is Maandagaand (8 Julie) dood in ’n motorbotsing by die provinsiale verkeerskantoor net buite die dorp, op die pad na Hopefield.
West Coast Medical Rescue (WCMR) het Tommy Thomson (66) ná die botsing omstreeks 19:00 na die hospitaal gehaas, maar hy het daar aan sy beserings beswyk. WCMR het nog twee pasiënte vir geringe beserings behandel.
Volgens die oorledene se dogter, Jolandi Carolus, het hy ’n werker wat vir hom teëlwerk gedoen het, huis toe geneem.
Thomson het reeds na regs begin draai toe ’n Toyota Fortuner in die voertuig se bestuurskant vasgery het.
Hy is kritiek beseer.
Thomson was self ’n sjef en het in sy loopbaan by die Langebaanweg-lugmagbasis sedert 1994 vele gerekende sjefs opgelei. Hy het al die menasies bestuur voordat hy agt jaar gelede afgetree het.
Sy vier kleinkinders en sy familie was sy hele lewe, het Carolus vertel. Haar pa was ’n prater, outgoing en die meester van flou jokes.
Die familie is dit eens dat braai en rugby die ander groot liefdes in sy lewe was.
Thomson het die naweek, op Saterdag 6 Julie, sy verjaarsdag gevier en was bevoorreg om die afgelope week tyd saam met ál vier sy kleinkinders te kon deurbring.
Marnel Thomson, die oorledene se suster, skryf op Facebook dat hy sy tydelike tuiste vir sy ewige tuiste verruil het. “Mag God jou geliefdes vertroos en krag gee in die hartseer tyd. Ek het nie woorde nie.”
Thomson laat ook sy vrou, Adri Thomson, en sy seun, Heini Thomson, agter. Begrafnisreëlings was nog nie gefinaliseer toe die koerant na die drukkers is nie.





