Die GOOD-party is weer in die nuus weens al die verkeerde redes met die herrie wat vandeesweek om die kop van die voormalige Springbok-afrigter Peter de Villiers losgebars het.
’n Medepartylid het ’n klag van seksuele wangedrag teen De Villiers, ’n raadslid in die Drakenstein-munisipale raad, aanhangig gemaak.
Volgens ’n ingeligte in die saak spruit dit uit ’n voorval waarin ’n man glo ’n vrou na bewering ’n snedige naam genoem en haar toe probeer soen het.
Intussen het die GOOD-party die klag teen De Villiers bevestig.
Dié party het verlede jaar twee ander senior partylede, Shaun August en Felicity Klazen, geskors omdat hulle “partytjies in slegte smaak” gehou het. August was die party se nasionale organiseerder en ’n lid van die Wes-Kaapse wetgewer en Klazen ’n raadslid en onderburgemeester in die Witzenberg-munisipaliteit.
Brett Herron, sekretaris-generaal en parlementslid vir GOOD, sê in ’n onlangse persverklaring dat De Villiers summier uit alle party-aktiwiteite geskors is nadat ’n klagte van seksuele wangedrag van ’n partylid ontvang is.
“GOOD se grondwet is ondubbelsinnig oor geslagsverhoudings en geslagsgebaseerde geweld. Die grondwet is van toepassing op alle lede, ongeag hul posisie.”
Hy het egter benadruk dat De Villiers se skorsing nie ’n skuldigbevinding is nie, maar die erns van die bewerings weerspieël.
’n Tugondersoek sal bepaal of De Villiers die party se grondwet oortree het.
Volgens Herron gaan die party nie verder oor die saak uitbrei nie, gegewe die sensitiewe aard van die bewerings.
Lt.kol. Malcolm Pojie, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie, het bevestig die Vredenburgse eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe ondersoek die saak. “Niemand is nog in hegtenis geneem nie en geen verdere besonderhede gaan verder oor die saak bespreek word nie.” Hy het benadruk dat geen besonderhede oor die slagoffer bekend gemaak gaan word nie.
De Villiers het in November 2021 by die GOOD-party aangesluit.




