Met Boland-klubrugby wat die naweek afskop, sal spanne hul seisoen reeds vroeg op ’n wennoot wil begin.
Mamre pak die verdedigende Boland-kampioen Saterdag in sy eerste wedstryd in Saldanha. Die groen truie was verlede seisoen baie wisselvallig, maar ná die goeie 7’s-toernooie waarin die span gespeel het, kan Mamre sy teenstaanders hierdie seisoen harde bene laat kou.
Die verdedigende kampioen moet nie vir een oomblik dink dat hy net moet opdaag om die wedstryd te wen nie.
Mamre sal met sy opwindende agterlyn gewis die tuisspan se verdediging tot die uiterste beproef.
Young Hearts, wat ’n goeie voorseisoen se voorbereiding agter die rug het, sal die bokkom-manne van Velddrif op die grafkelder onthaal.
Velddrif weet presies wat op die grafkelder gebeur indien jy nie jou kanse ten volle benut nie.
Young Hearts, wat verlede seisoen wedstryde op ’n skinkbord aan sy teenstanders gegee het, sal hierdie seisoen met sy vlugvoetige agterlyn na wind laat gryp.
St. Helena sal sy droomseisoen van verlede jaar op sy tuisveld wil herhaal wanneer hy Hopefield pak.
Vredenburg se Burg Boys onthaal die nuweling Koringberg. Dit sal interessant wees om te sien of die Burg Boys die seisoen wel die koring van die kaf sal kan skei.
Langebaan sal Piketberg in sy eerste wedstryd besoek, terwyl Paternoster eers ná die Paasfees in aksie sal wees.




