Familie en vriende van ’n 17-jarige seun wat na bewering by ’n onlangse atletiekbyeenkoms met ’n hokkiestok aangerand is, het verlede maand in protes na die Hoërskool Vredenburg opgeruk om ’n memorandum te oorhandig.
Die voorval waarin die tienerseun van die Hoërskool Weston beseer is, het Vrydag 26 Januarie by die hoërskool se sportterrein plaasgevind.
Volgens die pa van die tiener is die 17-jarige deur ’n veiligheidswag van die Hoërskool Vredenburg met ’n hokkiestok aangerand. “Hy is op die skool se sportterrein aangeval en reeds van die terrein begelei toe hy buite die terrein verder aangerand en met ’n hokkiestok teen die kop geslaan is,” het die pa aan Weslander vertel.
Die groep van nagenoeg 50 mense het die memorandum aan die skool oorhandig. Daarin eis hulle ’n openbare verskoning van die skool asook die skorsing van die onderwysers, veiligheidswag en ander wat by die voorval betrokke was.
Die skool is sedert die oorhandiging sewe dae gegun om op die eise te reageer. Volgens die seun se pa het hulle tot nou nog geen terugvoering ontvang nie.
“My seun sterk tans by die huis aan. Hy ondergaan fisioterapie en moet nog ’n sielkundige besoek.”
Unathi Booi, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD), sê die WKOD is bewus van die optog wat plaasgevind het.
“Die memorandum is aan die voorsitter van die skoolbeheerliggaam oorhandig. Die skool werk saam met die polisie in verband met die ondersoek. Die WKOD is in gesprek met die betrokke partye.”
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die Vredenburg-polisie, word tans twee sake wat met die voorval van Vrydag 26 Januarie verbind word, ondersoek.
“Die ondersoek na die twee sake van aanranding met die doel om ernstig te beseer, is in ’n gevorderde stadium, maar die ondersoek neem lank omdat talle ooggetuies betrokke is en hul verklarings al afgeneem is.”
Helfrich sê na afloop van die ondersoek sal die saakdossiere na die senior staatsaanklaer gestuur word vir ’n beslissing.


