Om die “plaag” van onwettige vuurwapens die hoof te probeer bied, het die Saldanha-polisie, die Weskus-honde-eenheid, die militêre polisie en wetstoepassingsbeamptes saamgespan en ’n plaaslike man vasgetrek.
Die 30-jarige verdagte is Vrydag (25 Augustus) by ’n huis in Antoniastraat, Diazville, in hegtenis geneem weens onder meer ’n onwettige 7.65-pistool sonder ’n reeksnommer, het sers. Wesley Twigg, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, gesê.
Twintig klein pakkies kokaïen en vier mandrax-tablette is ook in die huis gekry.
Die verdagte van Saldanha is in 2012 op 19-jarige ouderdom aan aanranding met die doel om ernstig te beseer skuldig bevind. Hy het vandeesweek in die Vredenburg-landdroshof verskyn.
Dié geïntegreerde optrede is deel van die provinsiale Operasie Restore waarin ’n man op dieselfde dag in Bellville, Kaapstad, in besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie betrap is.
’n Geïdentifiseerde perseel is in ’n intelligensie gedrewe optrede deursoek en ’n .38 Special-rewolwer met ammunisie is gekry.
’n Vrou (48) is in Delft in hegtenis geneem vir die handel in drank sonder ’n lisensie. Die polisie het op die drank beslag gelê en as bewysstuk ingehandig.



