Jy wat nie sondig nie . . . gooi die eerste klip.

Hierdie uittreksel uit die Bybel (vryelik aangehaal) het by my opgekom na aanleiding van die herrie wat losgebars het rondom die skynbare uitbeelding van die laaste avondmaal by die openingseremonie van die Olimpiese Spele in Frankryk. Die organiseerders van die geleentheid het intussen al om verskoning gevra vir die hele aangeleentheid en spesifieke redes aangevoer waarom die uitbeelding nie direk verband hou met die alombekende Leonardo Da Vinci-skildery waarin Jesus en sy dissipels verskyn nie. Of dit die bedoeling van die organiseerders was of nie – die hele gedoente het die aandag van veral die Christendom wêreldwyd aangegryp – myself ingesluit.

Ek wil my verstout om te noem dat in ons hedendaagse tye die wêreld al meer ’n plek en ruimte geword het waarin mense baie meer inklusief en akkommoderend is, en altyd probeer om meer respekvol teenoor die ander op te tree. Dit sal dus ’n baie slegte refleksie op die organiseerders van die openingseremonie wees indien hulle blatant ’n bespotting van die Christendom wou maak. Of selfs van enige ander geloofsoortuiging – hetsy dit Moslem, Hindoe of Boeddhisme is. Wat egter vir altyd in die geheue van miljoene kykers (vanuit die Christelike geloofstradisie) se geheue vasgelê is, is daardie uitbeelding waar iemand wat skynbaar soos Jesus lyk, met ’n klomp mense wat as skynbaar homoseksueel identifiseer, in dieselfde geselskap verkeer.

Dalk moet ons almal wat onsself as Christene identifiseer, ’n bietjie dieper gaan delf; onsself van die werklike feite oor die uitbeelding by die openingseremonie vergewis en dan eers oordeel. Die uitbeelding het my egter genoop om oopkop daarna te kyk.

Wat as dit wel ’n hedendaagse uitbeelding van die laaste avondmaal was? Kom ons veronderstel dat dit wel Jesus in ons dag en tyd is. Met wie sou Jesus homself vereenselwig het? Waar sou ons Hom gevind het? Net in die kerke en pragtige katedrale? Sou ons Hom slegs vind tussen die mense met groot titels en rykdom wat geen einde ken nie? Daarvan is ek nie so seker nie, want die Jesus wat ek in die Bybel leer ken het, is net die teenoorgestelde. Hy was ’n vriend van die armes, die onderdruktes en die melaatses.

Ek kan myself indink hoe Jesus met groot gemak in die strate van Hillbrow of Bellville sou beweeg; hoe hy nie sou skroom om met die randfigure in ons gemeenskap te vergader nie. En dié met wie Hy in aanraking sou kom, sou slegs onvoorwaardelike liefde, warmte en omgee ervaar.

Dis daardie eienskappe van Jesus wat die randfiguur sou uitdaag om ook die pad van liefde en opregte omgee vir ander te kies. En daardie pad is eg van aard. Daardie pad is bewus van ons eie tekortkominge as mens, maar met die ontmoeting wat ons met Die Mens gehad het, word ons daagliks geïnspireer om vreugde, lig en hoop met almal wat oor ons pad kom, te deel. Dit laat my sommer dink aan my ervaring hier aan die begin van my werksloopbaan. Ons het in ’n klein dorpie in die Drakenstein- munisipale gebied ’n uitreik-aksie aangepak. Die agenda: om jongmense in te lig oor die jeugprogramme wat by ons organisasie aangebied word.

Dit was ’n Vrydagaand.

Die smokkelhuis was die bymekaarkomplek. Met groot gemak het ons gemeng. Daar was groot respek en waardering vir dit wat ons gedoen het. Daar was geen veroordeling vir dié wat die byeenkoms na hartelus geniet het nie. Daar was slegs liefde en uitreik na jou naaste, want wie weet . . . dalk sou daar een uit die honderd wees wat graag by ons programme met ’n lewensveranderende impak sou aansluit.

Sommer ’n hele klomp jongmense het ná die aand by die smokkelhuis vir die programme aangemeld.

Ek kan myself maklik vereenselwig met die randfigure, want ek was ook eens in nood vir die aanraking van Hom wat lig, hoop en onvoorwaardelike liefde is. Toe ek nie kans gesien het vir die mens in die weerkaatsing van die spieël nie, het Hy kans gesien vir my. Hy het my liefdevol uitgenooi om saam met Hom aan tafel te kom sit en ’n feesmaal te geniet. En Hy doen dit nog daagliks – nie slegs vir my nie, maar ook vir die hoer, die dronkaard, die moordenaar, die smokkelaar, die rower, die egbreker . . . noem maar op. Dit verg net een aanraking of ’n woord van Hom wat liefde is om die hart van die gehardste sondaar te verander.

Laat ek ook byvoeg dat ons baie versigtig moet wees om nie die sondes van mense te klassifiseer nie, want dikwels word die grootste sondes in die naam van Christenskap gepleeg.

Niemand van ons is perfek en sonder geraamtes in die kas nie.

En as ons dan weer ’n keer oopkop na die uitbeelding by die opening van die Olimpiese Spele kyk, dan hoop ek dat die organiseerders ten minste dit reggekry het – om Christene opnuut te laat besin oor wie Jesus vir ons is in die tye waarin ons leef.

Ek was sommer geïnspireer om nog ’n keer die gedeelte oor die laaste avondmaal in die Bybel te gaan lees!

Jy wat nie sondig nie . . . gooi die eerste klip.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article