Nadat Suid-Afrika onlangs in een naweek ’n rugbytoets teen Ierland, ’n kriekettoets teen Nederland en die sewesrugby teen Fidji verloor het, laat weet ’n vriend van my hy hoop regtig nie daar is nog iets wat ons daardie naweek kan verloor nie.

Vir ons as Suid-Afrikaners wat baie lief is vir sport, was dit ’n bitter pil om te sluk. Ons is kompeterend en ons hou van wen. Ek besef dat hoe korter die formaat van die sport is, soos T20-krieket en sewesrugby, ’n goeie skeut geluk dikwels ’n deurslaggewende rol in die uitslag kan speel. Ek het egter nie gedink ons sou die krieket teen Nederland verloor nie.

Die week daarna verloor die Springbokke teen Frankryk ook, en om die sout nog dieper in die wonde te vryf, het die Suid-Afrika A-rugbyspan (ons naasbestes) daarna teen Munster en nog ’n week later ook teen die Bristol Bears, provinsiale rugbyspanne van onderskeidelik Ierland en Engeland, verloor.

In die beroepsera waarin ons ons bevind, is genoegsame ondersteuning van spanne van kardinale belang. Maar mense ondersteun nie graag ’n verloorspan nie. Verloor ’n span te veel kere, verloor toeskouers en borge gou belangstelling en daarsonder is daar nie geld om die spelers mee te vergoed nie.

Ek glo dit sou vir Krieket Suid-Afrika (KSA) ’n goeie finansiële inspuiting gewees het as ons span na die eindronde kon deurdring, maar ons span kon nie die wa deur die drif trek nie. Toeskouers hou daarvan om te sien hoe die spelers van jou eie span dié van ander spanne uitoorlê.

Tog reken die Springbok-hulpafrigter, Mzwandile Stick, dat Suid-Afrika A se nederlae waardevolle lesse vir die jong spelers in die rugbyspan was. Hoeveel sulke “wonderlike” lesse moet ons nog leer?

Fanie Heyns skryf in Rapport ’n wêreldbeker-triomf kan ’n Springbokspan 20% tot 30% meer in die sak bring vir geborgde sosialemedia-plasings. Wat borge se vertroue vernietig en hulle die hasepad laat kies, is korporatiewe bestuursmislukkings, soos die krisisse van die veld af by Krieket Suid-Afrika die laaste paar jaar.

’n Direkteur van ’n advertensie-agentskap reken ’n wêreldbeker-wenspan sal baie meer mediadekking ontvang, wat baie waardevol vir borge is. ’n Borg se doelwit is om oë op die handelsmerk of inhoud te kry. Met ’n wenspan is daar baie meer dekking en gevolglik word die waarde van die handelsnaam verhoog.

Daar is baie sosiale mag in ’n sportspan wat konsekwent wen en dit verhoog die kommersiële waarde. ’n Gunstelingspan wat wen, trek toeskouers, so stadions is vol en mense sal meer handelsware koop.

Dit lyk egter deesdae of die ambisies en politiekery van die bestuur en beamptes veel belangriker geag word as om ’n wenspan in die veld te stoot. As die hoofpunte op die agendas van bestuursvergaderings die stryd oor die topposisies weerspieël en bestuurslede mekaar met hofsake dreig, raak die kanse vir wen op die veld al hoe minder.

In ’n boek oor Oubaas Markotter vertel dr. Danie Craven van sy wedervarings met dié bekende in hul tyd saam op Stellenbosch. Markotter was die mentor en leermeester, Craven die speler en student.

Craven vertel hoe “Mister Mark” hom met ’n intervarsity teen die Ikeys trompop geloop het in die kleedkamer op Nuweland. “Danny, what are you gonna do?” het hy sy kaptein gevra om te hoor wat die taktiek gaan wees om die Ikeys te kan bêre. “Ons gaan ons bes doen, Mister Mark.” “Not good enough, Danny! Do you think they are not going to do their best? Think of something!”

Miskien is dit tyd dat ons begin “think of something” wat ons sport betref sodat politieke agendas en aspirasies nie die toon aangee nie. Behalwe vir Springbokrugby wat darem al drie keer die Wêreldbeker verower het en enkele swemmers en atlete, lyk Suid-Afrika se mededingendheid op die internasionale sporttoneel nie goed nie.

Nie net krieket nie, maar hokkie, sokker, netbal, tennis, en meer, het almal nodig om aandag te gee aan that something wat hulle daarvan weerhou om bo uit te kom. Miskien is dit die struwelinge in die raadsaal, miskien is dit politieke agendas, miskien is dit ’n gebrek aan big match temperament, miskien is ons spelers net nie fiks genoeg of op standaard nie of miskien ’n kombinasie van al bogenoemde.

Hoe dit ook al sy, dit is nie lekker om sport te kyk as dit gaan soos nou nie.

Ek hoop regtig hierdie donker wolk kry ’n silwer randjie voor volgende jaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi.. David Malherbe is ’n vryskutskrywer van Langebaan; kontak hom gerus by davidmalherbe1@gmail.com.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article