Oom Danie Marnewick het destyds gehelp om die Weskus-oumotor-klub te stig. Deesdae is hy met dieselfde konsep by Classic Cars Langebaan betrokke.
“Die wêreld van klassieke motors is maar klein. Ons almal ken mekaar, oor die land heen, en dit is altyd lekker wanneer ons mekaar in lewende lewe kan sien. Daarom is ons so opgewonde oor die skou volgende jaar,” vertel dié Langebaner.
Die jaarlikse George-oumotor-skou sal in Februarie weer plaasvind en Oom Danie vertel hy en die ander lede van die klub sal dan die langpad vir dié geleentheid aandurf.
Hy het onlangs sy 80ste verjaarsdag gevier en is oortuig dit is juis die werk aan sy klassieke motors wat hom jonk en aan die gang hou.
“Alles wat ek nog self kan doen, doen ek. Ander met ’n passie vir ou motors voel dieselfde. Ons werk self aan die motors, ruil onderdele uit en help met raad.”
Oom Danie se kundigheid om met sy hande te werk, kom sekerlik uit sy loopbaan as elektrisiën.
Danksy dié werk en sy vernuf kon Oom Danie sy dekade lange passie vir oumotors geniet.
Oom Danie is oorspronklik van Namibië, toe nog Suidwes-Afrika, en het later vir die SA Spoorweë gewerk. Hy het daarna saam met sy vrou, Eslie, aan die Weskus kom aftree.
Oor die jare het hy ’n besonderse versameling motors bymekaargemaak. Hy het meer as 30 verskillende klassieke motors besit.
Op ’n vraag van wanneer Oom Danie kans kry om sy verskillende motors te ry, sê hy hy bly redelik besig.
“Matriekafskeide natuurlik. Die jongmense, veral die meisies, hou daarvan om met die ou karre by hul afskeid op te daag. Ek verhuur ook die motors vir troues, en soms is daar produksiespanne wat van die motors soek. Een van my motors is nou juis vir ’n produksie verhuur,” verduidelik hy.
Oom Danie het egter vele reëls vir die uitleen van sy skatte. Een daarvan is dat enige skade op die produksiespan se onkostes herstel moet word en dat hy self enige nodige werk aan die motors doen.
“Hulle vlieg my dan uit na waar ook al hulle is. Niemand anders werk aan die motors nie; dit is maar ’n ding van al ons oumotor-entoesiaste.”
Oom Danie onthou goed hoe hy langpad met sy gesin gery en langs die pad stilgehou het vir pieknieks.
“In daardie dae was daar nie so baie eetplekke soos nou nie. Dan het ons piekniekmandjies vol gepak en elke nou en dan langs die pad by rusplekke stilgehou om ons broodjies onder die bome te eet.”
Hoewel dié dae verby is, het Oom Danie se passie vir sy motors en die langpad nooit verdwyn nie.
Hy sien daarom uit na volgende jaar se byeenkoms in George – veral ook omdat die spoggeleentheid nie tydens die pandemie kon plaasvind nie.





